Geskiedenis Olimpiade. Simoné de Witt, ‘n gr. 11-leerder van Hoërskool Fichardtpark in Bloemfontein, het tweede geëindig in die FAK Nasionale Afrikaanse Geskiedenisolimpiade van 2021. “Hierdie olimpiade het my trots op my moedertaal bevestig en ek is báie trots op my taal.”
Die fokus van vanjaar se olimpiade was op Suid-Afrikaanse geskiedenis (Afrikaanse taalgeskiedenis, Afrikanergeskiedenis en Westerse geskiedenis). Die olimpiade het uit twee rondtes bestaan. Rondte een, ‘n aanlyn vraestel en rondte twee, ‘n beredenerende opstel.
Simoné beskryf rondte een van die olimpiade as uitdagend, maar ook baie interessant: “Te danke aan die leeswerk wat benodig was vir die elektroniese vraestel, het ek Afrikaanse geskiedenis geleer wat ons nie op skool in diepte bestudeer het nie.”
Die opstel in rondte twee het ‘n keuse van onderwerpe gehad. Simoné het geskryf oor: “CJ Langenhoven – Afrikaans, ons pêrel van groot waarde”.
Simoné, Fichies is baie trots op jou!