Talle opgewonde leesliefhebbers vanaf graad 10 tot graad 12, het Vrydag 16 Februarie, die voorreg gehad om Fanie Viljoen te ontmoet. Hy het met baie entoesiasme met Hoërskool Strand die storie agter sy boek, Onderwêreld, kom deel.

Onderwêreld is nie net deur baie kreatiwiteit aanmekaar gesit nie, maar ook deur baie navorsing en harde werk. Fanie Viljoen het oor ‘n lang proses en laat aande hierdie boek geskryf wat in 2007 die Silwer Sanlam-prys vir Jeuglektuur gewen het, asook ‘ n ATKV-Kinderboektoekenning in 2009.

Fanie het onder andere met baie prokureurs, rekenaarboffins en selfs rekenaarkrakers gepraat oor hoe rekenaars werk, hoe dit moontlik is om ‘n rekenaar te kraak en wat die gevolge daarvan is. Die rekenaarkraker wat FNB gekraak het, was ook een van die mense waarmee Fanie ‘n gesprek gevoer het.

“Onderwêreld” handel oor seuns in ‘n seunskool diep in die Drakensberge, rekenaarkrakers, verhoudings en die donker dinge wat in die “onderwêreld” plaasvind. Hy het selfs besoeke aan talle seunskole afgelê om ‘n idee te kry van hoe die strukture in hierdie skole werk, watter reëls toegepas word, hoe verhoudings gebou word en hoe die dissiplinestelstel in streng, seunskole werk. Omdat “Onderwêreld” die Graad 12’s se nuwe voorgeskrewe boek vanaf 2017 is, het Fanie Viljoen ook sy oorspronklike karaktersketse van die karakters gedeel, asook foto’s van hoe die karakters in sy brein geskep is.

Die leerders van Hoërskool Strand is ongelooflik opgewonde om te begin lees! Gaan doen jouself ‘n guns en lees hierdie aangrypende boek – jy sal dit nie kan neersit nie.

Become a Sponsor