FAK Geskiedenis Olimpiade. In die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) se Nasionale Geskiedenis-olimpiade het leerders van regoor die land hul liefde vir geskiedenis bewys. Hulle het toetse afgelê wat aanlyn op 2 en 16 Augustus 2022 plaasgevind het.
Dit is die derde jaar wat die Internasionale Afrikaanse Geskiedenis-olimpiade aangebied was vir laerskole en hoërskole. Dit het gehandel oor onderskeidelik die Pionierstydperk (1652 tot 1820) en die Groot Trek-tydperk (1820 tot 1845) as temas.
49 Hoërskool- en 225 laerskoolleerders het aan dié aanlyn kompetisie deelgeneem.
Dit was ’n naelbytstryd, maar uiteindelik is drie wenners in die laerskool-afdeling aangekondig. Heila Viljoen van Laerskool Hennopspark het die eerste plek behaal. In die tweede plek is Ebeth Botha van Laerskool Klipfontein. Wihann Schalekamp van Euphorbia Christelike Onafhanklike Skool is kort op haar hakke in die derde plek. Hulle stap elk met ’n lekker kontantprys weg.
Chrisna Nel
Chrisna Nel, organiseerder van die Geskiedenisolimpiade het gesê sy is baie trots op wat die kinders vanjaar vermag het. Sy het ook bygevoeg dat sy opgewonde is om te sien dat kinders nog ’n liefde vir geskiedenis het. Dít ten spyte daarvan dat hulle nie meer baie van Afrikanergeskiedenis op skool leer nie.
“Vandag se jeug leer nie meer Afrikanergeskiedenis nie, behalwe as jy dalk ’n Voortrekker is. Die Geskiedenis-olimpiade poog om daardie leemte te vul,” het sy vertel.
“Deur ons olimpiade wil ons die kinders aanmoedig om meer te leer van hulle geskiedenis. Dit leer hulle waar hulle vandaan kom en wie die grondslag gelê het vir vandag. Die feit dat hulle so ywerig deelneem en goed presteer, maak mens weer trots op jou eie geskiedenis.”
Nel het ter afsluiting gesê dat dié olimpiade mens weer hoop gee. Dit wys dat ons jeug nog belangstel in hul verlede én strewe vir ’n beter toekoms.
“Die historikus FA van Jaarsveld waarsku tereg: ‘As ’n volk sy geskiedenis verwaarloos verdwyn sy bodem onder hom.’ Kompetisies soos hierdie gee mens weer hoop dat die bodem nie sommer gou onder ons sal verdwyn nie,” het sy afgesluit.
Simoné de Witt
Simoné de Witt, is ’n graad 12-leerder van Hoërskool Fichardtpark en een van vanjaar se wenners in die seniorafdeling. Sy het op haar beurt Nel se woorde geêggo. Sy sê dat haar ervaring van vanjaar se olimpiade haar net weer laat besef het hoe waardevol geskiedenis is as ’n les uit die verlede. Dit is ook ’n baken van hoop vir die toekoms.
“Die onderwerpe van hierdie jaar se eerste rondte was vir my baie interessant. Ek kon ‘n bietjie ‘opvang’ met my Afrikanergeskiedenis. Die tweede rondte se opsteltema rondom die Vrijheidsreis, was vir my ’n lekker uitdaging. Ek het geniet om dit te skryf! Dit het vir my ook ’n geleentheid gegee om spoor te vat in die Afrikanergeskiedenis in,” het sy vertel.
“Ek het net weer besef dat om geskiedenis lewendig én relevant te hou, jy self verantwoordelikheid moet neem om te weet waar jy en jou kultuur vandaan kom. As jy nie jou geskiedenis ken nie, hoe kan jy weet waarheen jy op pad is? Vanjaar was my laaste jaar van deelname en dankie aan die FAK vir die geleentheid en voorreg om aan hierdie olimpiade te kon deelneem,” het sy afgesluit.
Dirk Hagen
Dirk Hagen, die algehele wenner van die seniorafdeling het op sy beurt vertel dat vanjaar se olimpiade ’n lekker uitdaging was. Hy glo dat almal wat deelgeneem het baie waarde daaruit sou put.
“Hierdie jaar het die Geskiedenis-olimpiade gehandel oor die Groot Trek (1820 tot 1845). Dit was baie interessant en het my kennis uitgebrei rakende die trekleiers, belangrike gebeure in daardie periode, erfenisterreine en monumente. Die e-publikasie oor die Groot Trek (1820 tot 1845) as navorsingsbron was insiggewend. Dit is goed uiteengesit en het dadelik my belangstelling geprikkel. My honger is gestil rakende die Suid-Afrikaanse geskiedenis. Sekere tydperke in ons geskiedenis word in die skool oor die hoof gesien.
“Die opstel wat ek moes skryf, was egter die hoogtepunt van die olimpiade. Mens word altyd in ’n boksie gedruk om 250 tot 300 woorde te skryf. Hier het ek die vryheid gehad om na hartelus te skryf sonder ’n woordbeperking oor die Voortrekkermonument. Die totaal van 1938 woorde is gebruik om my passie vir geskiedenis uit te druk,” het hy vertel.
“Ek kan vir seker sê dat ek die navorsing gelees het soos ’n boek wat ek nie kon neersit nie. Hierdie geskiedenis leer jy nie op skool nie! Van die erfenisterreine was ’n nuutjie vir my. Ek het dit op my te doen-lysie geplaas. Ek is versot op idiome en daarom was die deel rakende die herkoms daarvan, iets besonders.”
“Winston Churchill het gesê dat hoe verder jy in die toekoms wil insien, hoe verder moet jy in die verlede terugkyk. Ek dink dit is werklik iets waaraan ek en die jonger generasie kan vasklou; die lesse uit die verlede,” het hy afgesluit.”
Meer skolenuus: https://schoolsthatrock.co.za
Foto’s verskaf