Hoërskool Ermelo se o/14-krieketspan het Maandag, 11 September 2017 teen Hoërskool Piet Retief gespeel op hulle velde. Saterdag, 16 September 2017 het die o/15-span weg gespeel teen Hoërskool Oosterland en die Eerste span teen Ermelo Christian School tuis.

Hoërskool Piet Retief het die loot gewen by die o/14’s se wedstryd en kolf eerste. Die Erries het gesukkel om druk op hul teenstanders te plaas, as gevolg van ‘n paar broukanse in die veld. Piet Retief het goed begin, maar die Erries het daarin geslaag om Piet Retief se paaltjies te hou op 132 vir 7 in hulle 20 beurte. Christiaan Arnoldi het uitgeblink met sy boulwerk en het 3 paaltjies met 4 balle geneem.

Hoërskool Piet Retief se uitstekende boulaanval het die Erries vroeg al onder druk gesit en dit was moeilik om  lopies bymekaar te maak. Hoërskool Ermelo is uitgeboul vir 70 lopies. Lourens Erasmus het uitgeblink in sy kolfbeurt met ‘n paar netjiese grenshoue.

Hoërskool Ermelo se o/15’s het eerste gekolf, maar ver onder hul vermoë presteer en slegs 104 lopies op die telbord gesit. Daarna het hulle vol geloof en vertroue die veld ingevaar. Die Erries se boul- en veldwerk was uitstekend, maar was nie goed genoeg om die teleurstellende teiken te verdedig nie. Die Erries verloor hierdie wedstyrd ongelukkig met 2 paaltjies.

Die Eerste span van Hoërskool Ermelo verloor die loot en is ingestuur om eerste te kolf. Ermelo Christian School se boulers het die Erries hard laat veg vir hul lopies en ons teken slegs 130 lopies aan.

Die Erries boul uitstekend en Ermelo Christian School  was almal uitgeboul vir 95 lopies. Jan-Hendrik Swart het 4 paaltjies in 3 boulbeurte geneem en Euwan Kemp het tydens sy kolfbeurt uitgestaan met 59 lopies.

Baie geluk, Erries. Ons bly trots op julle!

Foto hierbo: Ruan Labuschagne terwyl hy boul

Become a Sponsor