Erries ontvang Streepbaadjies. Op Maandag, 18 Oktober, is die gebruiklike streepbaadjies van Hoërskool Ermelo aan volgende jaar se graad 12-leerders oorhandig.
Hierdie is een van die Erries se mooiste tradisies. Die leerders sien vandat hulle in graad 8 deel word van die Erries, uit na die eer om die streepbaadjie te mag aantrek.
Tydens die oorhandiging word die gewone groen baadjie van die leerders vervang met die streepbaadjie. Dit is die erkenning van die Erekode wat vooraf aan die leerders gelees word.
Ryk geskiedenis
Dit is ‘n ryk geskiedenis wat gepaard gaan met dié besonderse baadjie. Mej. Adriani het in ongeveer 1917 die breë groen en smal wit kleure voorgestel. Die wit is simbolies vir reinheid en opregtheid en die groen vir moed en hoop. Die simboliese waarde agter die baadjies is iets wat die Erries na aan die hart lê, omdat dit daarop dui dat elke graad 12-leerder die skool as leier verteenwoordig en ‘n goeie voorbeeld moet stel, nie net die Errie-raad nie.
Jaarliks word die Skoolbybel en die skoolvlag ook tydens dié geleentheid aan die volgende jaar se presidente oorhandig.
Carla Ferreira het die Skool-Bybel ontvang as simbool van die Erries se geloof met die wens: “Glo in God en glo in die toekoms. Neem dit as ‘n lig vir jou pad – ook vir die Erries.”.
Die skoolvlag is aan Tiaan Grobler oorhandig as simbool van eenheid – eenheid in wil en eenheid in strewe met die wens: “Neem dit en bou ‘n beter toekoms vir ons skool en ons land.”
Baie geluk met die mylpaal wat julle bereik het, graad 11’s. EHS wens vir elkeen sterkte toe vir die matriekjaar. Mag julle die streepbaadjie en die simboliek daaragter met trots dra!