Vier van Hoërskool Ermelo se dogters-hokkiespanne het Saterdag in die snerpende koue kragte gemeet met gedugte teenstanders tydens die Mpumalanga uitspele. EHS se o/14A-, o/15A-, o/16A- en die Calstar eerstespan het almal in die kwarteindrondtes gespeel.
Die o/14A’s het Hoërskool Middelburg die stryd aangesê in ‘n baie harde wedstryd. Hierdie jong span het pragtige hokkie gespeel, maar verloor ongelukkig 2-0 toe Middelburg in die laaste 10 minute doele aanteken.
Die o/15A-span het aanskoulike hokkie gespeel en elke speler het haar bes vir haar span gegee met een doel voor oë: om eenheid na te streef. In die kwartfinaal speel hierdie span teen Hoërskool Standerton en wen 7-0. In die semifinaal speel die span teen Hoërskool Middelburg en wen 9-1.
Die o/16A-span het sonder twee van hulle staatmakers daarin geslaag om Hoërskool Standerton in ‘n besondere wedstryd in die kwartfinaal 2- 0 te wen. In die semifinaal speel hulle teen hoërskool Volksrust gelykop met twee doele elk. Die wenners word bepaal deur “8 seconds” wat plaasvind. Ongelukkig verloor die o/16A’s 4 -1.
Die Hoërskool Ermelo Calstar eerstespan dogtershokkie speel in die kwartfinaal teen Ligbron. Die twee spanne speel gelykop met een doel elk en “8 seconds” vind plaas. Hiermee wen die Erries 4 – 1. In die semifinaal speel die span teen HTS Witbank en wen 3 – 1.
Twee van die Erries se spanne speel volgende naweek 27 Julie in die Mpumalanga-finaal.
Baie geluk aan al die dogters.
EHS is besonder trots op julle!
Foto bo: Carla Ferreira in aksie met Anzé Mentz in die agtergrond