Frané Swart in aksie tydens die “Gauteng Sport for Disabled” se provinsiale proewe en tydens ‘n atletiekbyeenkoms te EHS.
Op Saterdag, 31 Augustus, het Frané Swart, graad 9-leerder van Hoërskool Ermelo, deelgeneem aan die eerste byeenkoms van die “Gauteng Sport for Disabled”.
Dié byeenkoms het plaasgevind in Boksburg. Sy moet aan twee byeenkomste deelneem en met haar tye kwalifiseer om aan die nasionale uitdunne deel te neem. Die volgende byeenkoms is op 19 Oktober.
Hierna staan sy ‘n kans om aan die Paralimpiese Spele deel te neem. Dít is haar groot droom. “Dalk is dit nog baie ver in die toekoms, maar ek het lankal reeds begin om aan hierdie doelwit van my te werk,” sê Frané met absolute vasberadenheid.
Sy was vanjaar deel van EHS se atletiekspan en dit het haar laat besef dat sy graag wil probeer om verder te vorder met atletiek. Aangesien dit vir haar moeilik is om te kompeteer teen haar portuurgroep, het iemand voorgestel dat sy aan die alternatiewe byeenkomste deelneem.
Frané het ‘n ongeluk gehad toe sy sewe jaar oud was en as gevolg van haar besering wat sy opgedoen het, kan sy aan die “Gauteng Sport for Disabled” se provinsiale proewe deelneem. Sy neem in die klas T46 deel.
Die atlete wat hier deelneem, word geklassifiseer na aanleiding van hul gestremdheid en Frané vaar uitstekend in haar klas met eerste plekke in al drie haar items: 100 meter, 200 meter en verspring.
Sy kwalifiseer ook met haar tye om volgende jaar in Maart te gaan deelneem aan die Suid-Afrikaanse atletiek-kampioenskap vir atlete met gestremdhede in Port Elizabeth.
Met haar positiewe gesindheid en krag van Bo sien sy kans vir enige uitdaging wat na haar kant toe kom. Sy pak dit 100% aan en is vir almal om haar ‘n voorbeeld van deursettingsvermoë en harde werk. Sy laat nie toe dat enigiets haar onderkry nie. Frané sê baie nederig en met ‘n pragtige dankbare hart: “Ek wil mense motiveer om altyd in hulself te glo en te weet dat Liewe Jesus enige iets kan doen – niks is onmoontlik of té groot nie!”
Baie geluk met hierdie uitsonderlike prestasie, Frané. Die Erries bars van trots oor jou!