Vosjan Grey en Jana Nel (Presidente 2020) staan trots op die verhoog terwyl mnr. Pieter Grobler hul erekode voorlees.
Op Dinsdag, 1 Oktober, het Hoërskool Ermelo hul jaarlikse prag-seremonie gehou waar die graad 11’s hul streepbaadjies ontvang.
Die spesiale funksie behels die oorhandiging van EHS se kenmerkende streepbaadjies aan volgende jaar se matrieks. Die leerders antwoord op ‘n erekode, waarna hulle op die verhoog staan en hule ouers die geleentheid kry om die gewone groen baadjie te vervang met die streepbaadjie.
Die simboliese waarde agter die baadjies is iets wat die Erries na aan die hart lê. Dit is ter aanduiding daarvan dat jy as graad 12-leerder deel is van die leiers van die EHS en ‘n voorbeeld stel vir dié wat na jou moet opkyk.
Die eerste skoolhoof van EHS (toe nog genoem die Uitkomstskool), mej. Adriani, het in ongeveer 1917 die breë groen en smal wit kleure voorgestel. Die wit is simbolies vir reinheid en opregtheid en die groen vir moed en hoop.
Na die oorhandiging van die baadjies, is die Skool-Bybel oorhandig aan die hoofdogter vir 2020, Jana Nel, as simbool van geloof met die wens: “Glo in God en glo in die toekoms. Neem dit as ‘n lig vir jou pad – ook vir die Erries.”
Die skoolvlag is oorhandig aan die hoofseun vir 2020, Vosjan Grey, as simbool van eenheid – eenheid in wil en eenheid in strewe. Die wens wat gepaardgaan met dié vlag, is: “Neem dit en bou ‘n beter toekoms vir ons skool en ons land.”
Die streepbaadjies is onlosmaaklik deel van die trots van Errie-wees.