Eeufees en Interskole. Na die Covid-pandemie kon Hoërskool Punt uiteindelik hul eeufees vier. Hierdie, gekombineer met die jaarlikse interskole, het gesorg vir groot opwinding onder die Punt-leerders en gemeenskap.
Die oud-leerders van Punt is bederf met geleenthede soos ‘n Ken Mekaar en ‘n aand van ontspanning en nostalgie by die Diaz-hotel. Oud-leerders het van heinde en verre gekom om die geleentheid saam te kan geniet en hulle was nie teleurgestel nie.
Gedurende die aanloop na interskole, het die leerders van Punt ‘n piekniek en markdag op 11 Augustus gehad. Saam met die piekniek was daar ook die inwyding van die Eeufees Fontein wat deur lede van die gemeenskap geborg is. Die leerders is toegespreek deur die Mnr. Gouws, skoolhoof, asook mnr. Dirk Kotzé, burgermeester van Mosselbaai. Die piekniek is afgesluit deur mnr. Kotzé wat die lint geknip het en die leerders die skoollied uit volle bors gesing het met die see as hul uitsig.
Big Brag
Die Big Brag was die eerste geleentheid wat aanleiding gegee het tot interskole. Alle sportspanne van Punt kon deelneem aan hierdie spoggeleentheid. Die eerstespanne is aan die skool bekendgestel en elke leerder se ouers kon die geleentheid kry om ‘n item aan hul kind te oorhandig voor die interskole op 13 Augustus.
Op 12 Augustus het die eerste wedstryde plaasgevind. Die tennis-, gholf en skaakspanne het hier reeds gewys dat Punt reg is vir interskole. Beide die tennis- en gholspanne het stof in Langenhoven Gimnasium se oë geskop.
Met opgewonde leerders en spelers het die wedstryde op 13 Augustus afgeskop. Om 08:30 het die eerste meisieshokkiespan geskiedenis gemaak deur op Punt se splinternuwe Astro uit te draf. Hierdie is ‘n projek wat al jare lank aan die gang is en dit kon uiteindelik op hierdie dag vir die eerste keer gebruik word. Ongelukkig moes die dogters die knie buig en het 2 – 1 verloor teen Langenhoven Gimnasium. Die eerste seunshokkiespan het ook die geleentheid gehad om ‘n eerste keer op die Astro te speel en het sterkgestaan met ‘n telling van 1 – 1.
Netbal
Die eerste netbalspan het om na ‘n suksesvolledag vir Punt op die netbalbaan ook hul stempel afgedruk met ‘n telling van 44 – 30. Slegs twee van Punt se netbalspanne kon nie as wenners van die baan af stap nie.
‘n Groot hoogtepunt van die dag was Punt se vlagseremonie. Dit was ‘n eerste van sy soort by Punt en die leerders het met entoesiasme deelgeneem. Ongeveer 400 leerders was deel van hierdie seremonie en het na weke se oefening net hul bes gegee. Die seremonie, met die tema Proudly South African, het gesorg vir hoendervleisoomblikke op die pawiljoen.
Met die rugbywedstryde op dreef het die o.14’s die standaard gestel deur 56 – 0 hul opponent te klop. Die dag is in groot gees afgesluit toe die eerste rugbyspan seëvier met ‘n telling van 10 – 0. Die leerders het met groot opwinding op die veld gedraf en, as skool, die skoollied uit vollebors gesing – ‘n trotse oomblik vir elke leerder, ouer, oud-leerder en onderwyser.
Hierdie was ‘n week vir die boeke vir Hoërskool Punt. Met fantastiese samewerking van elke persoon betrokke kon hierdie week as ‘n sukses afgehandel word.
Meer skolenuus: https://schoolsthatrock.co.za
https://www.pointhighschool.co.za/
Foto’s verskaf