7 MPU kampioene vir die Ligbron rugbyspanne
Ná afloop van die Mpumalanga finale wat op Saterdag, 20 Julie, op Ligbron se velde plaasgevind het, het Ligbron Akademie vir Tegnologie nou in totaal 7 Mpumalanga Kampioene vir 2019.Tydens die Mpumalanga finaal vir B-spanne wat op 8 Julie plaasgevind het, het 4 van Ligbron se B-spanne as kampioene uit die stryd getree. Drie van Ligbron se A-spanne ook op Saterdag in die finaal gespeel en hulle wedstryde beklink om as Mpumalanga Kampioene gekroon te word.
Die o/14A’s het teen Hoërskool Secunda te staan gekom. Hulle het van staanspoor af die wedstryd oorheers en op die ou end die wedstryd beklink met ‘n pragtige wen-telling van 41-14.
Die Computer Connection o/16A’s het teen Hoërskool Rob Ferreira gespeel en die wedstryd gewen met ‘n telling van 37-0.
Die Calstar Group Eerstespan het in ‘n uiters spannende stryd teen Hoërskool Secunda te staan gekom. Beide die spanne het toeskouers op die punte van hulle tone gehad met aanskoulike rugby. Ligbron het die wa deur die drif getrek en die wedstryd met 17-15 beklink.
Die o/14A, o/16A en Eerste rugbyspanne van Ligbron het almal as Mpumalanga Kampioene uit die stryd getree en dring deur na die Virseker Beker uitspele vir die nommer 1 posisie. Die Nashua Highveld o/15A’s sal die nommer 3 posisie vir die Virseker Beker uitspele inneem.
Beide die o/14A’s en Eerstespan sal eerskomende Saterdag, 27 Julie in Thabazimbi aan die eerste Virseker Beker uitspele deelneem, terwyl die o/16A’s in Ellisras sal speel en die o/15A’s op Ligbron se tuisveld sal uitdraf.
Foto bo: Ligbron o/14A Rugbyspan