)

Hoërskool Die Wilgers eer en onderhou moedertaalonderrig in Afrikaans!

Dit is bekend dat abstrakte konsepte wat in ʼn moedertaal geleer word makliker verstaanbaar is en meer oordraagbaar is na ander tale, omdat kognitiewe ontwikkeling juis in die moedertaal verhoog word.

Hierdie feit is ons vertrekpunt in ons skool.  Akademiese leer is en was nog altyd uitdagend – moedertaalonderrig verskraal die uitdaging en dra by tot die oopbreek van kennis en die ontwikkeling van begrip.  Ons het groot waardering vir die insette van elke instansie of organisasie wat hom beywer vir die uitbou van ons pragtige taal – soos Akademia. Hulle verwoord hul inisiatiewe in Afrikaans soos volg:

“ʼn Moedertaal is die eerste taal waarmee ʼn mens na geboorte kennis maak, en dit ontwikkel meestal ongehinderd as ʼn integrale deel van elke mens se onderbewussyn, denke en bestaan,” meen professor Hannes Rautenbach, dekaan van die Fakulteit Natuurwetenskappe by Akademia. “Hierbenewens skep ons moedertale ook ruimtes van geborgenheid waarbinne ons meestal op ons tuisste voel.”

Verskeie studies het al getoon dat moedertaalonderrig aanleiding gee tot  gesonder identiteitsvorming, identiteitsbesef, selfvertroue en gevolglik ook tot groter akademiese en sosiale uitnemendheid. Dit is alombekend dat dit vir leerders wat onderrig in hulle moedertaal ontvang, veel makliker is om kennis na ʼn tweede, derde en selfs meer tale oor te dra.
Daar is ongeveer sewe miljoen mense in Suid-Afrika wat Afrikaans as moedertaal koester. Naas Zulu (23%) en Xhosa (16%), is Afrikaans die moedertaal van nagenoeg 14% van Suid-Afrikaners. Suid-Afrika is ʼn veelsydige land wat bestaan uit ʼn rykdom van kulture en gemeenskappe. Hierdie veelsydigheid word veral versinnebeeld in die elf amptelike tale wat in Suid-Afrika gepraat word. Hierbenewens word beraam dat daar tot soveel as 35 verskillende dialekte in Suid-Afrika voorkom.

In die Afrikaanse onderwyssektor, wat in menige opsigte onder politieke beleg verkeer, is daar uiters interessante verwikkelinge. Solidariteit het ’n pyplyn van leer, onderrig, opleiding en werk in Afrikaans geskep wat inisiatiewe soos Akademia insluit.       (Uittreksel uit Ons vier moedertaaldag in Afrikaans (Solidariteit / Akademia) 21 Februarie 2020).

“By Die Wilgers geniet ons ons moedertaal.  Ons poog om dit te koester, te bestudeer, te besig en te laat groei!  Ons verlekker ons in die wonderklanke daarvan soos wat Breyten Breytenbach dit hier onder laat leef:”

4 Januarie 1974

skuins in die liefde ‘n visioen wat die oë ontroer:

Bonnievale die son loop sonder kieries of toue soos reuk

deur die land die aarde rooi en die hemel blou en wolke

wit vlieënde tapyte boomsingertjies maak glinsterend geluid

kluite het skaduwees die tamaties is sagte harte Breërivier

‘n slentertong wat diep fluister oor spoelklip en palmiet

agter die rant gooi Happy Valley se mense hul klanke

teen die rantjies vas my oom Nick staan in sy tuin

en kou die gras en streel sy pampoene hy kyk oor

wat daar uit sy aarde groei en tel sy seëninge een vir

een my grootvader se heerlike stof lê warm in die heuwels

God sit en droom in ‘n mikboom met bril en boek en ‘n beker

koffie  Hy kyk oor sy handmerke oor die boorde

die waterlope die varingtuine die muildiere die wolke

die stof en van pure blydskap knip Hy sy oë!

Klankrykheid soos hierdie sleur ons mee en rol soos heuning van die tong af.  Geen wonder dat die Afrikaanse boekemark uit sy nate bars en dat Afrikaanse musiek elke genre oorspan, terwyl dit wêreldwyd geluister word.

Ons taal is ‘n geskenk van God.  Dit is die jongste taal in die wêreld, maar reeds een van die mees dinamiese tale.  Dit is bewys toe die Bybel net 8 jaar nadat Afrikaans as ‘n regte taal deur die Suid-Afrikaanse regering erken is, in Afrikaans vertaal is (1933) onder leiding van S.J. du Toit.  Oor 4 jaar is ons taal dus maar ‘n 100 jaar oud – iets om sÓ trots op te wees!

Deur dr. Ebelie Maritz

Dr. Maritz verwerf haar D.Ed-graad in 1998 aan RAU (nou Universiteit van Johannesburg), in Sosio-Opvoedkunde. Die tema vir haar proefskrif:  “Ouers se beoordeling van die nuwe Onderwysbestel in Suid-Afrika, na demokratisering in 1994.” 

Sy hou reeds 35 jaar skool, waarvan 15 jaar as Departementshoof.  Sy merk matriekvraestelle vir 33 jaar.  Vra mens haar oor haar kwalifikasie merk sy, “Ek beskou dit as goue ervaring  wat ek graag terugploeg in onderwys in.”

Become a Sponsor
  • Related Posts

    KZN Marlins Basketball – St John’s D.S.G. outstanding

    KZN Marlins Basketball. Lamia Amod Joins the KZN Marlins! St John’s D.S.G. is thrilled to celebrate Lamia Amod, whose exceptional talent and determination have earned her a coveted place in…

    Gedagte vir die Week – Thought of the Week

    Gedagte vir die Week – Here, U is my lewe, U sorg vir my. Wat ek ontvang, kom alles van U af. Psalms 16: 5-7 Thought of the Week –…

    Leave a Reply

    You Missed

    KZN Marlins Basketball – St John’s D.S.G. outstanding

    KZN Marlins Basketball – St John’s D.S.G. outstanding

    Gedagte vir die Week – Thought of the Week

    Gedagte vir die Week – Thought of the Week

    Teemane Karateklub Winter Challenge – Hoërskool Kalahari

    Teemane Karateklub Winter Challenge – Hoërskool Kalahari

    EP U18 youth rugby – Pearson High School outstanding

    EP U18 youth rugby – Pearson High School outstanding

    Sharks U18B Team Selection – St Charles College delighted

    Sharks U18B Team Selection – St Charles College delighted

    Vrystaat Provinsiale Danskampioenskap – Hoërskool Sentraal

    Vrystaat Provinsiale Danskampioenskap – Hoërskool Sentraal