Dit is hoe Henrietta Gryffenberg, bekende aktrise, regisseur en vervaardiger, die uitslag beskryf nadat ATKV-Tienertoneel blitsvinnig ’n nuwe baadjie moes aantrek weens ’n wêreldpandemie.
“Covid-19 het gedreig om Tienertoneel ’n nekslag toe te dien. Die gemak waarmee die deelnemers die nuwe medium (om kort monoloë te skryf en dan te verfilm) omarm het, het nie net uitstekende toneelwerk opgelewer nie, dit het ook bewys hoe vindingryk jong mense met verandering kan omgaan.”
Die inskrywings was van ’n hoogstaande gehalte en volgens JJ van Niekerk, projekorganiseerder van ATKV-Tienertoneel, kondig die ATKV met trots die SUPER 12 aan.
“223 Talentvolle tieners het vanjaar ingeskryf. Die Top 20 is in September aangewys en het die geleentheid gehad om aan hul werk te skaaf na gelang van terugvoering deur die ATKV-Tienertoneelmentors.
“Hierdie aangepaste inskrywings is deur die paneel tydens die semi-finale ronde beoordeel en die SUPER 12 gaan skitter met hul laaste aangepaste weergawe van hul nuutgeskrewe monoloog tydens die finaal op 14 November,” sê JJ.
Die finaal is gratis en gaan première op die ATKV se Facebookblad en YouTube-kanaal.
Die SUPER 12 is:
- Alma van Heerden van die Kuswag Skool met “Alleen”.
- Anja Pieterse van die Hoërskool Stellenbosch met “Altyd Johan”.
- Chrizelle Strydom van die Hoërskool Upington met “Wegbreek”.
- Elzaan Daniels van die Hoërskool Jan van Riebeeck met “Skeletons”.
- Eckard van Heerden van Grey-Kollege Sekondêr Bloemfontein met “Die bloed in my oë”.
- Jeanne-Marié Koekemoer van die Hoërskool Stellenbosch met “Val”.
- June Kruger van die Hoërskool Parel Vallei met “Okey Cool”.
- Jurie Boshoff van die Hoërskool Hugenote met “Kollig”.
- Lisa Kukard van die Hoërskool Durbanville met “My Matilda en die Chinees”.
- Merwe van Gent van die Hoërskool Wesvalia met “Ingeperk”.
- Nichola Viviers van die Hoër Meisieskool Bloemhof met “Bonuspunt”.
- Ninke Theron van die Hoërskool Stellenbosch met “Mamma en ek”.
Vir die eerste keer in die geskiedenis van ATKV-Tienertoneel kan jy vir jou gunsteling- jong akteur/aktrise stem.
Die SUPER 12 se semi-finaalopname is op die ATKV se webwerf gelaai en kan voor gestem word deur op die gepaste skakel te klik. Wanneer jy stem, sal jy outomaties in aanmerking kom vir ’n gelukstrekking. Die wenner sal R1000 in kontant ontvang.
Die kykerskeuse word ook tydens die finaal op 14 November bekendgemaak.
“Ek hoop dat gehore ook hul bydrae sal lewer om die tellingbord 2-0 te maak. Kyk asseblief na die inskrywings en ondersteun die inisiatief,” sê Henrietta.
MAAK VAS JOU SITPLEKGORDEL, TREK DAAI SPRINGMIELIES NADER, KLIK HIER, KYK, STEM en WEN!
Die finaal word moontlik gemaak deur die volgende borge en beloof ’n produksie van uitstaande gehalte en meesterlike kykgenot te wees.
Netwerk24; OneBook; GAP Management; Jakkalsvlei; VivA; ATKV-Oorde; Forever Friday en ATKV-DigiKaptein.