ASA Kampioenskappe. Hoërskool Nelspruit sluit die seisoen af met nog vyf nasionale medaljes by die ASA Kampioenskappe!
Atletiek Suid-Afrika se nasionale kampioenskappe vir atlete onder 16, 18 en 20, het vanjaar (31 Maart tot 2 April) op Potchefstroom plaasgevind. Die standaard was veel hoër as by die onlangse SA Skole-byeenkoms, omdat studente wat nog onder 20 is, ook kon deelneem. Gauteng-Noord (sterkste atletiekprovinsie in die land) was ook met volle mag en krag in aksie. Desondanks, het die Laevelders hul stemme behoorlik dik gemaak. Sewe van die dertien medaljes wat Mpumalanga verower het, is gewen deur atlete wat smiddae op NHS se baan en veld, onder die wakende oë van die plaaslike afrigters, geoefen het. Hoërskool Nelspruit se bydrae alleen, is ‘n volle handvol van vyf individuele medaljes: 2 goud, 2 silwer en 1 brons.
Ashley Erasmus
Ashley Erasmus (m.18) het sekerlik met benoude oë die weer dopgehou. Haar twee eindrondtes in gewigstoot en skyfwerp, was vir dag 3 geskeduleer. Toe het die voorafgaande twee dae se mooi weerstoestande, ineens in ‘n nagmerrie van wind en deurdringende reën, verander! Ashley het egter weereens gewys dat sy, benewens unieke talent en hope dryfkrag, ook met ‘n sonderlinge wenners-temperament geseën is. Sy haar nie deur eksterne faktore van stryk laat bring nie.
Ashley behaal weer die goue tweekuns, deur haar twee worpe-items met puik afstande van 18,15m (gewig) en 51,77m (skyf) te wen. Beide, weer met ‘n voltal van 1000 ASA-punte! Haar skyfwerp-afstand maak Ashley die eerste meisie in die Laveld se geskiedenis wat verder as 50m kon gooi. Sy het haar vorige beste van 49,41m, by vanjaar se Laeveld-interhoër, verpletter. Volgens die IAAF se jongste internasionale ranglyste, beklee Ashley die nr. 1 – posisie in gewigstoot, en nr. 2 in skyfwerp. Ashley is gewis die blinkste atletiekster wat die Laeveld nog ooit in velditems geken het.
Shanese de Clerck
Ook Shanese de Clerck (m.18) moes in hoog- en verspring teen sterk mededingers én die elemente baklei. In uiters ongunstige, nat toestande, het beide Shanese en Gauteng-Noord se Mia Janse van Rensburg op 1,70m (850 punte) geslaag. Mia is eerste geplaas omdat sy die lat een keer minder afgespring het. Shanese se silwer medalje is nogtans ‘n uitstekende prestasie! Sy was later sesde in verspring (5,49m). Rod Ferreira se Caitlin Dehrman het weer stewig vertoon, en vyfde (1,65m) geëindig.
Handré van der Merwe (s.20) het sy prestasie by die Skole-kampioenskappe herhaal toe hy silwer in die 400m hekkies gewen het. Dié keer het hy ‘n pragtige nuwe pb van 52.82 sek. (942 punte) behaal. Hy was vyfde in die 110m hekkies, in ‘n mooi tyd van 14.43 (880).
Sheba Sithole
Sheba Sithole (m.16) het voorwaar gewys wat Nellie-‘guts’ kan vermag! Te midde van uiters strawwe kompetisie, het Sheba vasgebyt en is in die 1500m met ‘n bronsmedalje beloon. Sy het die eindwedloop in 4:43.17 (862) voltooi. Daarmee het Sheba ook met Jessica Berry se Nellie-rekord van 2016 , wat op 4:49.08 gestaan het, klaargespeel. Toe sy in die 800m haar uitdun in ‘n pragtyd van 2:16.99 wen, is sy as ‘n gevaarlike buiteperd beskryf. Haar tyd van 2:22.53 (830) was daar, maar nie goed genoeg vir ‘n medalje nie.
Na vanjaar se SA’s, kyk die universiteite se atletiek-administrateurs seker met verlangende oë na Rhodé Nel! Hierdie blitsige Nellie het op Potch, begin deur haar uitdun in die 100m (m.20) in ‘n vinnige 12.09 te wen. In die finaal is Rhodé vierde geplaas, al was haar tyd van 12.01 (896), dieselfde as die wenner van die bronsmedalje, s’n. Daarmee, het sy haar eie Nellie-rekord van 12.07 in die stof laat byt. Saterdag het Rhodé die 200m – in haar uitdun – in 24.98 afgeblits. Wéér moes sy egter met ‘n vierde plek in die eindronde tevrede wees, toe sy haar eie Nellie-rekord en pb van 24.82 (893) geëwenaar het. Uitstekend gedoen, Rhodé!
Marco Capazorio
Afrigter, mnr. Jaco van der Merwe, se ander hekkies-yster wat op Potch in aksie was, Marco Capazorio (s.20). Hy het ‘n baie goeie vierde plek in sy uitdun van die 400m hekkies behaal. Sy tyd van 54.35 (869) het hom ook vir die eindronde laat kwalifiseer. Dit het vir ‘n warm gevoel in die hart gesorg, om te sien hoe twee Nellies in ‘n SA-finaal, in dieselfde item, in die blokke sak! Marco kon ongelukkig net sewende (56.63 sek.) eindig. Sy tyd in een van die 110m hekkies se uitdunne, was 14.71, wat ‘n goeie 852 ASA-punte werd was.
Hoërskool Nelspruit is met reg ook baie trots op twee verdere prestasies, wat deur NHS-afrigters behaal is. Mnr. D.P Badenhorst en sy helpers het die talentvolle oud-Robbie, Connor Barnes (s.20) vir die spiesgooi-kompetisie gebrei. Connor het vir nog ‘n goue medalje vir Mpumalanga ingeoes. Hy het die 800g-spies op ‘n uitstekende 69,40m laat grondvat! Onder die bekwame afrigting van mnr. Charl en mev. Marthie Naudé, het Zanele Sehohle (m.20), verras toe sy die bronsmedalje in die 1500m voor die neuse van meer bekende atlete, met ‘n tyd van 4;45.39 weggeraap het.
Wat ‘n opwindende, uiters genotvolle en suksesvolle was 2022 se skole-atletiekseisoen nie! Opregte dank en groot waardering aan elke atleet en afrigter wat alles gegee het om drome te realiseer, nuwe horisonne te ontgin en vir trots in so baie harte, te sorg.
Meer skolenuus: https://schoolsthatrock.co.za
Foto’s verskaf