AJ Sportweek. Die jaarlikse AJ Sportweek is gedurende die Maart skoolvakansie deur Hoërskool Punt aangebied. Skole van heinde en verre het deelgeneem aan hierdie spoggeleentheid.
Hoërskool Punt se eerste netbalspan het in totaal 12 wedstryde gedurende die jaarlikse AJ sportweek gespeel. Hulle wen in totaal nege van hul wedstryde en verloor slegs drie. Op die finale dag speel hulle vir vierde en vyfde plek uit teen Hoërskool Dirkie Uys en wen 19 – 16. Die span eindig vierde uit twintig skole.
Die hokkie-manne het die toernooi met baie ywer aangepak. Hulle wen al vyf hul wedstryde. Die seuns teken 28 doele aan en daar is slegs twee doele teen hulle aangeteken. Teen finale tyd in die semi-finaal was die tellings steeds gelyk. Die seuns wen die “penalty shoot-out” en beweeg aan na die finaal. Met nog ‘n uitskietrondte teen Curro Langebaan verloor en eindig tweede in die toernooi.
Hokkie-dogters
Die o.19 A hokkie-dogters het ook geskitter. Deur al elf hul wedstryde te wen, eindig hierdie dogters as wenners van die toernooi. Daar is 30 doele deur hierdie onoorwonne span aangeteken en slegs 2 doele teen hulle aangeteken. Hierdie span spog ook met Anika Otto as die dogterspeler van die toernooi, asook die dogter wat die meeste doele gedurende die toernooi aangeteken het.
Hoërskool Punt die o.19 B hokkie dogters het ook aan die AJ sportweek deelgeneem. As die enigste B-span wat aan die toernooi deelgeneem het, het hulle hulself goed van hul taak gekwyt. Aan die einde van dag een is die dogters derde en aan die einde van dag twee was hulle vierde. Hierdie span eindig die toernooi in die agtste posisie.
Altesaam drie rugbyspanne van Hoërskool Punt het deelgeneem. Die eerste rugbyspan wen twee uit hul drie wedstryde, met ‘n uitstekende telling van 50 – 7 teen HTS Middelburg op die laaste dag. Punt se o.19 B-span het aan drie wedstryde deelgeneem en het die toernooi onoorwonne afgesluit met baie goeie tellings. Die o.16 A-span het ook deelgeneem. Hulle het gemengde uitslae behaal met een wen, een verloor en een gelykop telling.
Na hierdie toernooi se goeie uitslae heers daar groot opwinding oor die komende sportseisoen vir die Visse.
Meer skolenuus: https://schoolsthatrock.co.za
https://www.pointhighschool.co.za/
Foto’s verskaf