Hoofdogter 2024. In ons reeks oor Hoofdogter 2024, gesels Schools That Rock met die Hoofdogter van Hoërskool Bredasdorp in die Suid-Kaap, Somé Louw.
Somé, vertel ons meer van jouself en jou leierskap. Wat is jou leierskap-ervaring?
- Ek is ‘n baie selfstandige, opregte en gedetermineerde mens. Eienskappe wat alles aanklank vind in my leierskap. Ek geniet dit om deur voorbeeld te lei. Ek glo ook dat verandering eerstens in ‘n mens se hart plaasvind voordat jy dit van ander of ‘n sisteem kan verwag. Ek is ‘n dienende leier en sal groot opfferings maak vir die mense om my. Ek vind trots daarin om my sterk span medeleiers demokraties te lei. My ervaring as leier is een van uiterste eer, opwinding en uitdagings, wat ek enige dag saam met my span sal aanpak.
Wat is jou mees belangrike waardes as leier?
- Nederigheid, integriteit, selfvertroue en omgee. Ek glo dat die wenresep van ‘n suksesvolle leier is‘n balans tussen selfversekerheid en ‘n dienaar vir ander.
Vertel ons meer oor jou persoonlike doelwitte vir jou leierskapjaar? En vir Hoërskool Bredasdorp?
- Om ‘n geesdriftige omgewing in die skool te skep waar almal gehoor voel, maar steeds respek vir ander toon. Ek sien uit om as ‘n mens en leier te groei deur by al die talentvolle leiers rondom my te leer. Ek wil graag sekere aspekte van die skool verbeter, en sien uit daarna om te streef na selfs ‘n beter atmosfeer en leergebied.
Wat is jou sterkste leierseienskap?
- Omgee. As Hoofdogter 2024 glo ek dat indien jy nie eerstens die motief het om ander te help en te dien nie, jou leiding nie veel beteken nie. Deur om te gee vir ander, kweek selfvertroue, opregtheid en integriteit. Dit is uiters belangrike leierskapseienskappe om te hê. Ek is ook ‘n baie standvastige mens en verloor nie sig van my waardes in moeilike omstandighede nie.
Hoe kry jy samewerking (commitment) van jou span?
- Eerstens deur ‘n gemaklike omgewing te skep waar almal voel dat hulle mening gehoor word. Ek glo dat jy ander moet hanteer soos jy hanteer wil word. Daarom respekteer ek my span, en hulle vir my, en sodoende vorm ons ‘n ondersteunende hegte band en hou mekaar verantwoordelik vir die plig wat ons gekry het.
As jy enige honderas kon wees, watter ras sou jy wees? Hoekom?
- ‘n Golden Retriever omdat hulle vir soveel mense geluk bring en verskriklik lief is vir die mense rondom hulle. Ek is natuurlik, nes hulle, verskriklik mal oor swem en die natuur.
Somé, hoe sal jy jou span lei deur verandering?
- Ek sal my span verseker dat ons sterk genoeg is om enige uitdaging en verandering aan te pak. Daarna sal ek evalueer hoe om die verandering so glad as moontlik te laat plaasvind en dit stappie vir stappie van daar af vat. Ek glo voorbereiding kan enige probleem oplos, dus moet ons emosioneel en psigies voorbereid wees om enige uitdaging en verandering aan te pak.
Wat staan die meeste vir jou uit by Hoërskool Bredasdorp?
- Definitief die gees, samehorigheid en geloof wat ons as ‘n skool bind. Ons leerders en ouers is verskriklik betrokke by die skool en gemeenskap, wat ons ‘n sterk, ingevlegde ondersteuningsstelsel vir mekaar maak. Ons leerders is baie afgerond en neem gelyktydig aan menigte kultuur-, akademiese- en sportaktiwiteite deel.
Wie is die persoon na wie jy opsien? Hoekom?
- Ek kyk die meeste op na my pa. Hy is die steunpilaar van ons gesin en ‘n sterk leier in die gemeenskap is. Hy het my geleer hoe om ‘n leier deur God te wees en wat dit beteken om werklik ‘n voorbeeld te wees. Hy het ‘n florerende besigheid uit niks begin deur deursettingsvermoë en selfvertroue. Hy bewys elke dag dat dit nie saak maak wie teen jou staan nie, maar dat deur die leiding van God, jy enigiets kan aanpak.
Wat was die hoogtepunt van jou skoolloopbaan tot dusver? Hoekom?
- Ek het die voorreg gehad om verlede jaar o/19A netbalkaptein te wees, wat vir my ‘n ongelooflike ervaring was. Terwyl ek een van my geliefde stokperdjies beoefen het, kon ek my leierskaps-eienskappe ontwikkel. Dit was ‘n eer om so naby aan ‘n groep ongelooflike meisies te kon raak. Sodoende kon ek ‘n sterk ondersteuningstelsel opbou met lewenslange vriendinne. Dit het my baie geleer oor die lewe en was gereeld die hoogtepunt van my dag.
Waaroor dagdroom jy?
- Ek dagdroom gedurig oor hoe my toekoms lyk en al die moontlikhede wat voor my uitsprei. Verder ook waarheen ek oral wil toer en die ervarings wat ek nog wil beleef. Ek dagdroom ook oor take wat ek moet verrrig en kry my idees wat voel asof dit oral iin my kop ronddryf agtermekaar.
Hoe sal jy graad 7 leerders oorreed om Hoërskool Bredasdorp van graad 8 af te oorweeg?
- Ek het self oorweeg om in graad 8 na ‘n ander skool te gaan, spesifiek ‘n groot skool met al die aanloklike geleenthede wat jou oog vang. Maar ek is nie ‘n dag spyt dat ek by my skool opgeëindig het nie. Sonder die sterk gevoel van ‘belonging’, die gemeenskap en ondersteuning van wat ek in my skool en dorp ervaar het, sou ek verseker al misluk het. Dit het my gehelp om my identiteit stewig te vestig. Die wye reeks van aktiwiteite wat die skool my toelaat om aan deel te neem om ‘n afgeronde en multi-funksionele persoon te kan wees, sal ek vir niks verruil nie. Ek sou vir seker nie dié ervaring by ‘n ander skool gekry het nie. Daar is ‘n elektriese geesdrif en entoesiasme tussen die leerders van Hoërskool Bredasdorp, wat my nuwe krag gee. Dit gee my onmeetbare trots om te weet dat alles in die lewe nie gaan oor wen of verloor nie, maar die wyse waarop ons dinge aanpak. Dt is die ervaring wat jy by Hoërskool Bredasdorp kry.
In watter rigting wil jy studeer na skool? By watter universiteit?
- Ek wil ingenieurswese by Universiteit Stellenbosch of UCT gaan studeer. Ek oorweeg dit om eers ‘n oorbruggingsjaar te neem en ervaring in die groot wêreld op te bou en sodoende seker te maak van my besluit.
Hoe sal jou vriende jou beskryf?
- ‘n Staatmaker. Ek vind trots daarin om altyd daar te wees vir my vriendinne en ek dink dit is ongelooflik belangrik om jou vriende by te staan en te ondersteun, deur dik en dun. Ek is ook ‘n avontuurlustige, sportiewe mens wat lekker saam kan lag.
Meer skolenuus: https://schoolsthatrock.co.za
Foto verskaf