Wingerdkennis. Die leerders van Hoër Landbouskool Boland kan daarna uitsien om eerstehandse wingerdkennis in wyndruifverbouing op te doen. Vinpro se Gen-Z-wingerdprojek het vandeesweek veertig uiteenlopende wyndruifkultivars op die skool se perseel gevestig.
Demo-wingerd
Die Hoër Landbouskool Boland het verlede jaar met die Gen-Z-span begin hande vat om hierdie nuwe projek te koördineer. Dit is nadat die Junior Landbouvereniging ʼn behoefte uitgespreek het om ʼn demo-wingerd aan te plant. “Die projek by Hoër Landbouskool Boland pas perfek in by die doelstellings van die Gen-Z-wingerdprojek. Ons is trots op ons verbintenis en is opgewonde om te sien hoe hierdie projek waarde vir leerders en produsente in die omgewing gaan ontsluit,” sê Francois Viljoen. Francois is die bestuurder van die wynbedryforganisasie Vinpro se Gen-Z Wingerdprojek.
Gen-Z het ten doel om wynprodusente, wingerdboukundiges, verskaffers en navorsers met die nuutste praktyke, tegnologie en hulpmiddels in die wingerd te verbind. Dit geskied deur kleinskaalse demopersele regoor Suid-Afrika se wyndruifverbouingsareas te vestig.
Agter-Paarlstreek
Altesaam 21 rooi en 19 wit wyndruifkultivars is by Hoër Landbouskool Boland aangeplant. Die doel is om te sien hoe hierdie kultivars spesifiek in die Agter-Paarlstreek se terroir sal aard. Die meerderheid van die 2 861 wyndruifstokkies bestaan uit tradisionele druifsoorte. Daar is ook ʼn aantal nuwer druifsoorte soos Agiorgitiko, Arinarnoa, Lledoner Pelut, Assyrtiko en Piquepoul Blanc. Terselfdertyd word ses verskillende prieëlstelsels, asook ʼn aantal verskillende snoeitegnieke op die proef gestel.
“Dis die eerste skool waar ons so ʼn demo-wingerd vestig. Dit gee op ʼn vroeë stadium aan leerders blootstelling. Buiten wingerdkunde in die algemeen, bied dit verskillende nuanses in die veld ten opsigte van druifsoort, terroir en wingerdpraktyke,” sê Francois. Produsente, wingerdboukundiges en ander belanghebbers in die omgewing sal ook die wingerde kan besigtig tydens demonstrasiesessies.
Leerervaring
“Die afskop van die wingerdprojek is vir ons ʼn groot mylpaal. Ons glo die leerervaring sal ons leerders na ʼn nuwe vlak neem,” sê Kobus Hartman, skoolhoof van Hoër Landbouskool Boland. “Ons is ook dankbaar vir elke bedryfvennoot wat met ons hande gevat het om hierdie projek moontlik te maak.”
Die vennote wat tot dusver hul dienste, produkte en kundigheid tot die projek bygedra het, sluit in Hauptfleisch Grondverskuiwing en Bergrivier Besproeiing. Die Koöperasie, Vititec Wingerdkwekerye, Voor-Groenberg Kwekery, MK-arbeidskontrakteurs, Windmeul Kelder en Vinpro se Gen-Z Wingerdprojek is vennote in die projek. “Bo en behalwe hul tasbare bydrae, sien ons ook daarna uit dat hierdie bedryfsvennote hul kundigheid verder met ons leerders gaan deel in die langtermyn,” sê Kobus.
Vir verdere navrae of om betrokke te raak by die projek, kontak Hoër Landbouskool Boland by tel 021 869 8143 of e-pos kh@bolandlandbou.com, of die Gen-Z Wingerdprojek by tel 083 309 7627 of e-pos viljoenf@vinpro.co.za.
Foto verskaf
Meer nuus van skole: