Dit is vir Schools That Rock ‘n voorreg om ‘n paar vrae te vra aan Nina Germishuisen, Hoofmeisie van Helpmekaar Kollege in Johannesburg, vir 2022.
Nina, hoe sien jy jou rol as hoofmeisie van Helpmekaar Kollege?
Ek is vreeslik opgewonde om te sien hoe ons matriekgroep gaan saamwerk volgende jaar. Al die matrieks in ons skool het potefeuljes waarvoor hulle verantwoordelik is, asook vir die verwelkoming van die nuwe Helpies vroeg volgende jaar. Die hoofleiers dien dan as verteenwoordigers en koördineerders van die matriekgroep (tesame met die graadvoogde).
Hoe het die afgelope 4 jaar by Helpies jou vir die rol as leier voorberei?
Vandat ons in graad 8 hier ingestap het, was die pas waarteen alles gebeur iets om aan gewoond te raak. Jy moet doodeenvoudig byhou of jy raak agter. Daar was al baie trane (gelukkig en ongelukkig), maar dit maak ons geweldig ‘tough’. Geen wonder een van ons leuses is “‘n Helpie word nie moeg nie.” Daar is nie tyd vir moeg wees nie. Daarom is niks te veel nie.
Na wie sien jy op vir inspirasie of mentorskap?
My ouer broer, Nikolas. Hy is een van die positiefste mense wat ek ken en het ‘n hart van goud.
Watter studieriging beoog jy na skool?
Ek wil graag BCom Rekeningkunde gaan studeer.
Wat staan vir jou die meeste uit by jou skool?
Die feit dat hier feitlik geen diskriminasie is nie. Almal gun werklik vir mekaar ‘n plekkie in die son.
Dink jy dat deelname aan sport verpligtend moet wees in skole?
Beslis. Nie almal is atlete nie (ek inkluis!) maar hier is iets vir almal.
Wat het jy die meeste geniet tydens jou skoolloopbaan?
Die trotse gevoel wat ek elke keer ervaar het (en nou nog) as ek my basher opsit en my baadjie aantrek. En natuurlik geesvang.
Wat is jou doelwitte vir jou dienstermyn?
Soos vir alle skole, was die laaste twee jaar maar moeilik. Deur die onderwysers se harde werk kon ons nog darem die binnekant blink hou. Nou wil ons graag die bokant weer afstof en die gees laat herleef.
Wat motiveer jou om jou ideale te bereik?
My ouers werk baie hard om vir my en my broer die beste geleenthede te skep. Ek sal graag eendag aan hulle wil teruggee.
Hoekom sou jy leerders aanraai om ook deel van Helpmekaar Kollege te word?
Die ‘Helpie-magic ‘is iets wat jy moet ervaar. Dit sal jou lewe verander.
Wat is jou toekoms-ideale?
Ek hoop om eendag terug te kan kyk en te weet dat ek alles ten volle gedoen het (selfs atletiek uitdunne!).
Foto verskaf
Lees meer oor Helpies: