Vlnr: Prof Stan du Plessis (US), Piet Botha (PRG hoof van krieket), prof Wim de Villiers (US), mnr André van Staden (PRG rektor), Rob Benade (Stellenbosch Academy of Sport), Roelou Slabbert (voorsitter van die PRG beheerliggaam)
Die Universiteit Stellenbosch en Paul Roos Gimnasium het ‘n ooreenkoms onderteken om ‘n selfonderhoudende binnenshuise krieketfasiliteit op die skool se eiendom, oorkant die hoofkrieketveld te ontwikkel. Die US gaan ook ‘n veeldoelige sportveld op ‘n aangewese gedeelte van sy eiendom langs die nuwe binnenshuise fasiliteit ontwikkel.
“Befondsing van Remgro, die US en Paul Roos Gimnasium het hierdie ooreenkoms moontlik gemaak en die bou van die nuwe fasiliteit ter waarde van byna R15 miljoen het vroeg in 2021 begin. Die US is opgewonde oor die rol wat hierdie fasiliteit sal speel om die gehalte van krieketopleiding in Stellenbosch te verhoog,” het prof Stan du Plessis, Uitvoerende Bedryfshoof van die US, gesê. Die fasiliteit sal deur alle betrokke partye gebruik word.
Volgens mnr André van Staden, die rektor van Paul Roos Gimnasium, is hy opgewonde dat hierdie krieketfasiliteit ontwikkel word en dat dit baie waarde tot die skool se krieketprogram gaan toevoeg. PRG sien daarna uit om in samewerking met die US ‘n nuwe fasiliteit te skep wat studente en die breër gemeenskap in Stellenbosch kan benut.
Om hierdie spesiale ooreenkoms te vier is ‘n seremonie op 23 Maart langs die konstruksieperseel gehou. Buiten Paul Roos Gimnasium personeel, leerders en lede van die beheerliggaam, is die geleentheid deur verteenwoordigers van Remgro, Stellenbosch Akademie van Sport, die Universiteit van Stellenbosch, sleutelprojekbestuurders en kontrakteurs asook Paul Roos se nuutaangestelde hoof van krieket, Piet Botha, bygewoon. Botha het in 2021 by die skool aangesluit en is ook in beheer van binnenshuise krieket. Dit is sy wens dat Paul Roos Gimnasium die eerste skoolkeuse vir enige jong aspirant professionele krieketspeler sal wees.
Die ontwikkeling van die nuwe binnenshuise krieketfasiliteit is ‘n kardinale stap in die verwesenliking van dié visie.