8 Spanne oor die heleNoord-Kaap Provinsie het hierdie jaar Hoërskool Upington se Krieketfees bygewoon. Op die Voorpos, Oranje Noord en Vooruitsig was die plaaslike spanne. Seodien, Kathu, wat 2 spanne ingeskryf het, Hopetown en die NCC o/13 ontwikkelingspan was spanne van buite.
Vrydag het begin met 25-boulbeurt wedstryde tussen die spanne, waar elkeen hul voete gevind het op die Upington vlaktes. Om 18:00 het alle spanne by Uppies se B-veld bymekaar gekom om mekaar in die 10 boulbeurt wedstryde, wat onder ligte plaasgevind het, aan te vat.
MTN het hul groot tent opgeslaan en ‘n Wifi Hotspot opgestel waar alle spelers na hartelus op die internet kon baljaar en gratis met hul ouers en vriende by die huis kon “Chat”. Daar is gebraai vir die afrigters en die aand het tot laat in die nag aangehou, waar die laaste wedstryd eers om 22:30 geëindig het.
Hisense het 3 selfone gegee vir die beste kolwer, bouler en veldwerker. Kgalagadi Signs se drukwerk het besonders uitgestaan onder die ligte wat alle borge se logos uitgebeeld het.
Saterdag het die spanne mekaar met ‘n 50 boulbeurt wedstryd aangevat. Goeie tellings is opgestel en van die jongmanne het met die bal en kolf hul staal gewys.
‘n Uitsonderlike telling was die wedstryd tussen Op die Voorpos en Kathu A, waar Voorpos 253 lopies aangeteken het en Kathu A 186. Dit is vir die jongspanne ‘n besonderse prestasie om sulke hoë tellings aan te teken, aangesien hul gewoond is aan baie korter weergawes van die spel.
Aan alle ouers wat hul kinders ondersteun het, alle borge- MTN/URB, Hisense en Kgalagadi Signs, wil ons bedank vir hul ondersteuning om van die naweek só ‘n groot sukses te maak.











