Tydens Hoërskool Cradock se jaarlikse Marilie Moolman Tennistoernooi wat aangebied is van 16 tot 19 Augustus 2017, het een speler ‘n besondere toekenning ontvang. Die Marilie Moolman toekenning word jaarliks aan die speler gegee wat die beste karakter op die baan, maar ook van die baan af wys. Afrigters van die onderskeie deelnemende spanne nomineer een speler wat besondere karaktereienskappe openbaar vir hierdie toekenning.
Philip Fouché, matrikulant van CHS, het hierdie gesogte titel ontvang vir sy optrede tydens die toernooi. Philip is reeds lank bekend onder personeel en mede-leerders van CHS vir die manier waarop hy met ander omgaan, altyd vol deernis en respek. Hierdie toekenning is dus welverdiend.
Philip, soos ander matrikulante, is tans besig met voorbereidings vir die rekord- en eindeksamens wat binnekort plaasvind. Vir vyf jaar het hy reeds met hart en siel deelgeneem aan talle aktiwiteite by Hoërskool Cradock en ook op die tennisbaan groot prestasies behaal. As deel van die eerste seunspan is Philip ‘n speler om mee rekening te hou en reken gereeld vining met sy teenstaanders af. Om hierdie titel te ontvang is ‘n gepaste wyse om sy hoërskoolloopbaan af te sluit.
Baie geluk Philip met hierdie pragtige toekenning.
Op die foto heel bo:
Philip Fouche, saam met trotse ouers Sugnét en Hentie.