Sporterkennings – Die afgelope seisoen was vol sporterkennings vir die leerders van Laerskool Durbanville. Glans en prestasies was deel van die sporterkennings van leerders. Van swembad tot dansvloer en selfs op internasionale sportverhoë.
Hoogtepunte van leerders
Hier is ’n paar hoogtepunte wat wys hoe talent en harde werk vrugte afgewerp het:
- Simon Tredoux maak sy merk by die NMBA Inter-District Championship. Hy was een van slegs vier seuns onder 10 wat gekies is om die Kaapse Metropool-span (Cape Town Aquatics) te verteenwoordig. Dit is ’n groot eer vir hom!
- Markú Loubser se naam het gereeld op die medaljelys verskyn:
- By die CTA B Champs-swemgala het hy goud in die 100 m vryslag en 100 m rugslag gewen, silwer in drie items, en brons in 200 m borsslag.
- Hy het Suid-Afrika verteenwoordig by die UIPM-wêreldkampioenskappe in biathle, triathle en laserrun. Hy verwerf goud saam met die span in al drie dissiplines, asook in individuele top-5-plasings.
- By die Brian Button CTA gala het hy silwer in 50 m rugslag verower, en by Laerskool Durbanville se interhuisgala het hy weer goud en silwer ingeryg in verskeie items.
- Motlatsi Khahledi het by die CTA Brian Button Qualifying Meet brons gewen in die 50 m vlinderslag en in die 200 m.
- Cobus Wentzel het sy uithouvermoë getoets by die UIPM Biathle Wêreldkampioenskappe en ‘n 12de plek in die finaal behaal.
- Hendrik Verster het sy mikvas bewys met ’n 3de plek by die Chasa rimfire gong shoot.
- Kari Gericke het Suid-Afrika verteenwoordig by die Biathle Wêreldkampioenskappe en 8ste geëindig uit 40 atlete. Dit is ’n indrukwekkende prestasie.
- Ruvan Jooste het ook sy land se kleure gedra en 7de algeheel geëindig by dieselfde kampioenskappe.




Dans hoogtepunte
- Kara Strydom het die dansvloer laat skitter en is by Durbanville School of Dance se jaareindkonsert bekroon as Most Improved Dancer. ’n Toekenning wat haar groei en toewyding deur die jaar vier.
- Karli van Rooyen het die danswêreld betower by die Stars of the Universe internasionale kompetisie. Sy wen goud vir haar solo én groepdans. Sy het ook gekwalifiseer vir die Georgia International Arts Festival.
- Anine Tredoux het saam met die Suid-Afrikaanse dansspan ook goud gewen vir haar individuele en groepoptredes by Stars of the Universe, en gaan saam na die Georgia-fees.
Baie geluk aan al die Durbies vir uitstaande sporterkennings! Julle harde werk, talent en deursettingsvermoë maak Laerskool Durbanville trots op julle!
Meer skolenuus: https://schoolsthatrock.co.za/
https://laerskooldurbanville.co.za/
Foto’s voorsien
Become a Sponsor








