Waarnemende Skoolhoof. Hoërskool Witteberg is trots om die aanstelling van Mnr. Mike Visser as Waarnemende Skoolhoof vir die jaar 2026 aan te kondig.
Mnr. Visser, ’n ervare en gerespekteerde leier by Witteberg, het die verantwoordelikheid met oortuiging aanvaar. Hy sien daarna uit om die skool, as deel van ’n spanpoging, verder te dien en te lei.
Sy onderwysloopbaan strek oor meer as drie dekades. Hy het in 1989 by Hoërskool Hentie Cilliers in Virginia begin en in 1991 by Hoërskool Witteberg aangesluit. In 1993 is hy as Departementshoof vir Lewenswetenskap aangestel. Sedert 2018 dien hy as Adjunkhoof en Akademiese hoof. In hierdie rol verseker hy dat Witteberg se akademiese standaard steeds ’n bron van trots bly.
Buiten sy bestuursrol is Mnr. Visser ook bekend as ’n toegewyde sportafrigter, veral in rugby. Sy kundigheid geniet nasionale erkenning. Tussen 2015 en 2021 was hy Senior Nasiener vir Lewenswetenskappe. Sedert 2022 dien hy as Adjunkhoofnasiener van die Nasionale Senior Sertifikaat-eksamen. Hy beskik oor ’n BSc-graad in Dierkunde, sowel as ’n nagraadse onderwyskwalifikasie van die Universiteit van die Vrystaat.
Beheerliggaam voorsitter
Mnr. Sarel Venter, voorsitter van die Beheerliggaam, beklemtoon:
“Hoërskool Witteberg staan op ’n sterk fondament. Met ’n bekwame bestuurspan, toegewyde opvoeders en die aktiewe betrokkenheid van ons beheerliggaam, handhaaf ons die hoogste standaarde van onderrig en opvoeding.”
Hoërskool Witteberg sien met groot verwagting uit na die jaar 2026. Die skool verseker ouers, leerders en die gemeenskap dat die skool steeds sal voortbou, uitbrei en vooruit beweeg.
🎉 Die hele Witteberg-gemeenskap sê hartlik geluk aan Mnr. Mike Visser – “ons staan bankvas agter u!”
Lees meer skolenuus hier: https://schoolsthatrock.co.za/
Foto verskaf









