Bokamoso skitter in Afrikaans – Hoër Meisieskool Oranje is baie trots op Bokamoso Matlakala. Sy is hul ster wat skitter in Afrikaans én debat! Deur hierdie prestasie wys sy dat talent geen taalgrense ken nie.
Bokamoso Matlakala, ’n graad 9-leerder aan Hoër Meisieskool Oranje, het onlangs ’n uitsonderlike prestasie behaal. Sy het ‘n tweede plek verower het in die Afrikaans Huistaal-afdeling (gr. 8 en gr. 9). Dit was tydens die jaarlikse “Provincial Language and Heritage Festival.” Wat hierdie prestasie besonders maak, is dat Afrikaans haar derde taal is. Sy het Afrikaans eers in graad 1 begin leer.
In die kompetisie moes deelnemers ’n resensie van ’n kortverhaal skryf en lewer. Bokamoso het dit met slegs ’n dag se voorbereiding reggekry om haar plek tussen die toppresteerders te verseker. Haar vermoë om ’n taal so goed te bemeester spreek van ongelooflike toewyding. Omdat sy akademies daarin kan uitblink, wys haar intelligensie en liefde vir leer dit. Daarby het Bokamoso ook ‘n begeerte om te skitter in Afrikaans.
Bokamoso se talente strek veel verder as net taalvaardigheid. Sy is ook ’n uitblinker in debat, en is lid van die junior debatspan. Hulle het onlangs gekwalifiseer vir die nasionale rondte van Dink-of-Sink. Dit is ’n prestasie wat nét die mees skerp en welsprekende jong denkers bereik.
Haar verhaal is ’n inspirasie vir jongmense regoor die land. Sy bewys dat met deursettingsvermoë en passie, enige uitdaging oorkom kan word. En dat selfs in ’n taal wat nie jou moedertaal is nie, jy kan skitter. Haar sukses is ’n viering van meertaligheid, kultuur, en die krag van jong vroue wat hul stemme gebruik om ’n verskil te maak.
Baie geluk, Bokamoso! Jy is ’n ware voorbeeld van uitnemendheid en Oranje is trots om jou prestasies te vier.
Meer skolenuus: https://schoolsthatrock.co.za/
Foto voorsien
Become a Sponsor








