Leerder skitter met Skryftalent – Nanette Jordaan,is ’n Graad 12-leerder van Hoër Meisieskool Oranje. Sy het onlangs gewys dat sy ’n merkwaardige aanleg het vir die geskrewe woord. Haar skryftalent het haar nie net erkenning besorg nie. Sy is ook tot nasionale wenner gekroon in die senior afdeling (Graad 10–12) van die ATKV-DigiSkryf-kompetisie!
Sy het nie net deelgeneem nie, sy het uitgeblink. ’n A++ simbool, die hoogste moontlike erkenning, is aan haar werk toegeken. Dit is nie net ‘n prestasie wat nie sommer uit die lug val nie. Dis die vrug van harde werk, toewyding en ’n kreatiewe gees. Nanette is nie bang om ’n storie met siel te vertel nie.
Deelnemers aan die kompetisie moes een van drie temas kies. Nanette het op die ontroerende tema “Hartsdinge” besluit. ’n Keuse wat sinoniem is met skryfwerk, wat diep raak en emosie uitdra. Haar inskrywing, getiteld “Hartkoppig”, het die beoordelaars beïndruk. Met haar unieke perspektief, oorspronklike stem en die manier waarop sy met empatie en insig die tema verken het.
Hierdie prestasie plaas Nanette nie net op die kaart as een van Suid-Afrika se opkomende jong skrywers nie. Dit dien ook as inspirasie vir ander leerders om hul kreatiwiteit en liefde vir taal aan te wend op maniere wat impak maak.
Hoër Meisieskool Oranje hou duimvas vir hierdie Graad 12 leerder wat skitter met skryftalent. Die skool hoop ook dat hierdie toekenning slegs die begin is van nóg groot dinge vir dié talentvolle jong skryfster!
Lees meer skolenuus hier: https://schoolsthatrock.co.za/
Foto voorsien
Become a Sponsor








