Ligbron Akademie vir Tegnologie, Ermelo, se o/14A-, o/15A-, o/16A en eerste rugbyspanne het op Saterdag, 27 Julie aan die eerste Virseker Beker uitspeel wedstryde deelgeneem. Die o/14A’s het saam met die Calstar Group Eerstespan na Thabazimbi gereis waar hulle teen Hoërskool Frikkie Meyer te staan gekom het.
Die o/14’s het hulle wedstryd oortuigend met ‘n pragtige telling van 40-5 gewen.
Die Calstar Group Eerstespan het in ‘n ongelooflike spannende stryd gespeel met ‘n wedstryd wat die toeskouers behoorlik hul naels laat byt het. Met goeie uithouvermoë en ‘n wil om te wen het hulle die wa deur die drif getrek en die wedstryd met ‘n telling van 38-34 beklink.
Die o/16 Computer Connection span het na Ellisras gereis waar hulle teen Hoërskool Ellisras uitgedraf het.
Die Liggies het hulle harte uit gespeel en het hulle opponente op hulle tuisveld met ‘n telling van 26-10 geklop.
Die Nashua Highveld o/15A-span het op Ligbron se velde teen ‘n sterk span van Hoërskool Dinamika gespeel.
Na ‘n klipharde wedstryd, wat behoorlik wipplank gery het, het die Liggies die wedstryd met 12-15 verloor.
Die o/14A’s en die eerstespan sal albei op Saterdag, 3 Augustus, in die kwartfinaal van die Virseker Beker teen Midstream College op Midstream se velde speel en die o/16A’s sal teen HTS John Vorster op hulle tuisveld te staan kom in die kwartfinaal van die Virseker Beker. Baie sterkte aan hierdie drie spanne.
Foto: Hermanus Steenkamp in aksie tydens die Nashua Highveld o/15A’s se wedstryd teen Hoërskool Dinamika.