1Ste X1 Krieket Kapteins. Schools That Rock gesels verder in hul reeks oor skole se 1ste X1 Krieket Kapteins. Verskeie skole in Suid-Afrika se 1ste span Krieket-kapteins neem deel aan hierdie gewilde reeks. Ons vyftiende bal word vandag geboul na Alrique Julies, kaptein van Hoërskool Langenhoven in Riversdal, se 1ste krieket span.
“Ek het op die ouderdom van 9-jaar begin krieket speel. Ek het op laerskool aan Mini-Krieket toernooie deelgeneem. Krieket was nog altyd ‘n baie gewilde sportsoort in ons familie. Ek glo stellig dis waar ek die liefde vir die sport gekweek het. My besluit om krieket te speel, was maar deur my pa, oom en broer aangedryf. As kind volg mens mos maar altyd in die ouer persone in die familie se voetspore.
Toe ek my eerste wedstryd gespeel het, was ek vreesbevange en baie deurmekaar. Ek het aanvanklik gesukkel met my kolfwerk. My oorhaastigheid het my kolfwerk ‘n bietjie gekelder en in die wiele gery. Dit het veroorsaak dat ek nie tot my volle potensiaal gekolf het nie.
Grootste taak
Ek is in Graad 11 die eerste keer as kaptein verkies. Ek beskou die grootste taak van ‘n krieket kaptein op die veld om die span bymekaar en kalm te hou. Dit is ook belangrik om die span in hulself te laat glo. Dan, vir my is die mees belangrike taak, dat die kaptein moet weet wanneer hy moet “step-up” en die druk van die spelers af te haal deur die druk op jouself te neem. Dit is ook belangrik om die spangees hoog te hou.
Ons oefen twee keer per week, afhangende van wedstryde.
Die bekwaamhede waaroor ‘n goeie krieketspeler moet beskik, is myns insiens, goeie sportmanskap en kalmte tydens wedstryde. My sleutel tot sukses is ‘n sterk en positiewe “minset” want dit stel jou instaat om jou teenstander te oorwin en beter te speel as wat hulle jou toelaat.
Die feit dat ek so ‘n suksesvolle en geesdriftige span op die veld kan lei, inspireer my elke keer wanneer ek op die veld stap.
My grootste krieketheld is AB de Villiers.
As ek moet kies tussen boul en kolf, verkies ek om te kolf.
Lekkerste wedstryd
My lekkerste wedstryd as krieket kaptein was ons tweede-laaste wedstryd van die pas-afgelope seisoen. Die rede was dat ons opponente, met die laaste bal, twee lopies benodig het om te wen. Hulle kon nie daarin slaag nie, en ons het die wedstryd gewen. Dit is wat ‘n wedstryd opwindend maak!
As krieket kaptein hanteer ek druk op die veld deur kalm te bly en myself te herinner aan wat my rol in die span is. Verder fokus ek op die span.
My raad aan beginners is dat jy moet kruip voordat jy kan loop. Begin klein, wees nederig en die sukses kom vanself.
My pa is my rolmodel. Wanneer ek ‘n moeilike wedstryd agter die rug het, soek ek altyd raad en hulp van hom.
Ja, ons het ‘n nar in die span. Sy naam is Cheslyn Abrahams. Die persoon wat my in die meeste verras tydens wedstryde is ook Cheslyn Abrahams. Wanneer hy die dag sukkel met sy kolfwerk in ‘n wedstryd, sal hy my altyd vra of hy ‘n boulbeurt of twee kan kry. Dan sal sy draaiwerk altyd ‘n paar paaltjies laat val.
Die bouler vir wie ek die meeste vrees, is Firlynn Malowitz.
Ek kyk wel na sport op die televisie wanneer ek die tyd het, omdat ek van sport hou. In my vrye tyd speel ek graag gholf – my hoofsport – en dan beoefen ek saam met my pa duiwesport.
As ek myself in een woord moet beskryf, is dit raakvatter.
Meer skolesport: https://schoolsthatrock.co.za
Foto verskaf