Witteberg Personeel. Soos wat onderwysseisoene verander, het die tyd vir Witteberg personeel ook aangebreek om een van hul unieke personeellede te groet.
Mev. Stefanie Meyer tree vandag as opvoeder verbonde aan die Hoërskool Witteberg in Bethlehem af. Op haar mooi en opregte manier was sy die dame wat seker gemaak het dat vele ratte van Witteberg reg draai. Haar hart vir ons skool en omgee vir sy leerders het haar ‘n enorme deel gemaak van dit wat Witteberg vandag is. Sy is meesterlik.
Vir die afgelope 33 jaar was dit ‘n ongelooflike voorreg om haar diensbaarheid en kundigheid te kon beleef. Haar gelyke is bitter skaars. Sy het in haar tyd by Witteberg as leerkrag begin en daarna oorbeweeg na die administratiewe sy van die skool. Hier het sy op haar beskeie en vriendelike manier gewys dat professionaliteit en ‘n besondere werksetiek, die sleutel tot sukses is. Geen taak was ooit vir haar te groot nie en is altyd met ywer aangepak. Sy is vir lank reeds baie geliefd onder almal met wie sy in aanraking gekom het.
Ons wens haar alle seën toe met haar aftrede. Sy het aan ons elkeen by Witteberg bewys dat die lewe ons niks skuld nie, behalwe die geleentheid om goed te doen aan ander. As mentor, kollega en vriend gaan ons haar beslis mis.
Mev. Meyer, mag die pad vorentoe gevul wees met vreugde en mag God jou in die palm van Sy hand hou. Jy sal altyd ‘n voorbeeld vir ons bly.
Ons salueer jou!
Meer skolenuus: https://schoolsthatrock.co.za
Foto verskaf