Die Wes-Kaap se XCO MTB-Kampioenskappe (bergfiets) het op 28 Mei 2016 te Bloemendal Wynlandgoed plaasgevind met ‘n sterk deelname deur van die huidige top Wes-Kaapse streeksryers. Hierdie kompetisie, bestaande uit vier liga-wedrenne, het afgeskop in Januarie vroeër vanjaar, en is steeds die afgelope ses maande in volle gang in en om van die mooiste en mees onherbergsame terreine in die Wes-Kaap.
Anders as die vorige drie, was hierdie die laaste wedren waartydens die Wes-Kaapse kampioene in elke kategorie gekroon sou word. Die baan het beslis hiervan getuig en was uitgelê met steil bulte, wêreldklas tegniese stroke, fyn draaie en hoëspoed areas; genoeg om selfs die dapperste ryers te toets.
Welverdiend het die wenners prysgeld, ‘n medalje, ‘n Wes-Kaapse Kategorie Kampioenskap en ‘n Wes-Kaapse Trui van William Newman, huidige president van SA Cycling, tydens die Oorhandiging-seremonie, ontvang.
Vir die kranige DF Malan-span, het hierdie eer hulle twee keer te beurt geval, toe elk van hulle topryers, by name Stefke Tolmy in die Sub Junior Girls en Mulder Oosthuizen in die Youth Men kategorieë presteer het. Albei hierdie ryers is tans toppresteerders in die streek en welbekend in hulle onderskeie ouderdomsgroepe.
Hierdie oorwinnings maak hulle nie net plaaslike Wes-Kaap kampioene nie, maar bring hulle ook nader aan die Nasionale Kampioenskappe wat later in die jaar in Pietermaritzburg aangebied word. Dit sal voorwaar ‘n besondere prestasie wees, nie net vir DF Malan nie, maar ook vir die Wes-Kaap streek, indien hierdie twee ryers tydens die Nasionale kampioenskap kan presteer. Ons wens hulle alle sterkte toe!
Become a Sponsor