VRL Voorsitter 2024. In ons reeks oor Hoofleiers, oftewel VRL Voorsitter 2024 van Hoërskool Durbanville in Kaapstad, gesels Schools That Rock met Gerd Klem. Hy beklee die posisie van VRL Voorsitter vir die skooljaar van 2024.
Gerd, vertel ons meer van jouself en jou leierskap. Wat is jou leierskap ervaring?
- Ek is Gerd Klem, ‘n hoofleier van Hoërskool Durbanville, maar dis nie heeltemal wie ek is nie. Ek is ‘n Christen. Meer nog, ek gril vir die gevoel van spons-matrasse. My gunsteling melkskommel geur is “bubblegum”. Dit is die enigste geur waarvan my Pa nie hou nie. Dus eis hy nooit sy wel-bekende ‘slukkie-belasting’ op nie. In die laerskool het ek op ‘n stoeltjie gestaan om toesprake in die saal te lewer omdat ek te kort was om by die mikrofoon uit te kom. Ek het nog elke jaar van my hoërskool loopbaan my hare afgeskeer. Hoekom? – as ek steeds vriende het terwyl ek soos ‘n aartappel lyk, is hulle my regte ware vriende. En ek is trots om te sê dat ek, na 17 jaar, steeds my ma se gunsteling (enigste) seun is.
- Dit is ek. Dit is Gerd Klem.
- Wat my leierskap ervaring betref: Ek lei deur ’n positiewe voorbeeld in woord en daad te stel .My waardes, wat met my skool ooreenstem, bepaal ook my besluite en keuses. Ek is tot diens van my skool.
Wat is jou mees belangrike waardes as leier?
- “Gentlemanship”
- integriteit
- respek – vir myself en ander (veral my ma)
- diensbaarheid
- dissipline
- deursettingsvermoë
- werksetiek
- passie
Vertel ons meer van jou persoonlike doelwitte vir jou leierskapjaar? En vir Hoërskool Durbanville.
- Om terug te kyk op die nalatenskap wat ek gelos het, al was dit net om een kind se lewe te verander.
- Ek wil formele byeenkomste waar leerders en onderwysers vergader meer produktief en effektief maak.
- Ek wil ons seuns leer en inspireer om “gentlemen” te wees.
- Ek is ’n trotse Christen wat ons skool se waardes wil uitleef en bevorder.
Gerd, wat is jou sterkste leiers-eienskap?
- Deur dik en dun dien ek my skool. Ek gebruik ook my positiewe invloed en ingesteldheid om ‘n goeie voorbeeld te stel. En ek gryp uitdagings aan om nie net my doelwitte nie, maar ook nuwe hoogtes te bereik.
Hoe kry jy samewerking (commitment) van jou span?
- Deur vooraf fyn te beplan en die visie en misie moet ook duidelik wees voordat ek en my span ‘n taak aanpak. Gedurende die taak vloei my passie en energie van nature en word my span net meer gemotiveer.
As jy enige honde-ras kon wees, watter ras sou jy wees? Hoekom?
- ‘n Staffordshire Bull Terrier. Hulle presteer nie uitmuntend- of is spesiaal in enige iets spesifiek nie, maar is gebalanseerd in alle aspekte van hulle lewe. Hulle is ook taai en sal nooit ‘n geveg begin nie, maar sal dit wel eindig.
Hoe sal jy jou span lei deur verandering?
- My span vertrou my oordeel. Ek is ’n standvastige ligtoring wat die pad vorentoe verhelder en ‘n baken van hoop aan hulle bied. Dit is vir wanneer ons deur draaie en swaaie van verandering en verantwoordelikeheid moet navigeer.
Wat staan die meeste vir jou uit by jou skool?
- Hoërskool Durbanville het ‘n hele paar slagspreuke: “Harde werk versier” en “Klein skool met ’n groot hart.” My gunsteling een wat ons tot vandag nog uitleef is: “Hoërskool Durbanville, die plek waar elkeen iemand is.”
Wie is die persoon na wie jy opsien? Hoekom?
- My pa. Hy is die rots vir ons gesin. Hy is wys en dit wys in sy grys hare. Hy gee my voorregte wat ek nie verdien nie en geleenthede wat ek nooit sou hê nie. Hy is wie ek nooit kan wees nie, maar die man na wie ek altyd sal strewe.
Wat was die hoogtepunt van jou? skoollopbaan tot dusver? Hoekom?
- Toe ek ons skool se legandariese pakkies tjips, ‘Chippas’, vir ‘n week van R2 na R1 verminder het by die skool se snoepie as een van my beloftes van my verkiesing.
Gerd, waaroor dagdroom jy?
- Om die mooi in elke dag se poging om myself te verbeter, asook in die mense rondom my en die Here se kunswerk te sien.
Hoe sal jy Graad 7 leerders oorreed om jou skool te oorweeg vanaf Graad 8?
- Alhoewel ons skool in ouderdom 200 jaar nader, is ons baie jonk in gees! Ons is ‘n progresiewe skool wat nie in die verlede vashaak nie, maar ons skep ons eie identiteit en “embrace” dit wat ons graad 8 leerders elke jaar nuut na die tafel bring.
In watter rigting wil jy studeer na skool? By watter Universiteit?
- BCom Regte by die NWU in Potchefstroom.
Hoe sal jou vriende jou beskryf?
Gerd is ‘n wyse jong man wat die woord van die Here navolg. Hy sien die positief en die potensiaal in alle omstandighede. Hy is iemand wie aandagtig luister na jou probleme en eerlik en realistiese oplossings bied. Gerd is ‘n ware voorbeeld van respek, integriteit en wysheid. Soos alle mense is hy nie perfek nie, maar hy strewe elke dag om sy, en die mense rondom hom, se lewens te verbeter.
Hy is nie my broer in bloed nie, maar in Christus. ~ Herman Verwey
Meer skolenuus: https://schoolsthatrock.co.za
Foto verskaf