Hoër Landbouskool Oakdale van Riversdal spog vanjaar met nie minder nie as vier leerders wat ingesluit is in die SA 0/18 se Hoë Prestasiegroep.
Paul de Villiers, Dian Heunis, Niel le Roux en Phillip Kleynhans wat almal vir Oakdale se 1ste rugbyspan uitdraf, het die eer te beurt geval.
Die vier spelers, wat ook ingesluit is in die SWD 0/18 Cravenweekspan, is deel van die groep van 35 rugbyspelers wat op Saterdag 31 Julie vertrek op ‘n toer na Georgia. Gedurende hul toer in Georgia sal die spelers die geleentheid gegun word om hul vaardighede in vier wedstryde ten toon te stel. Die wedstryde word elke 4de dag gespeel sodat die spelers gewoond kan raak aan hierdie tipe intensiteit.
Volgens Rassie Erasmus, die SA Rugby Direkteur van Rugby, moet die spelers ontwikkel en voorberei word vir internasionale mededinging. Hy is baie dankbaar vir hierdie geleentheid wat hulle gebied word. Hierdie toer sal ook ongetwyfeld sorg dat die EPD program kontinuïteit geniet. Die wedstryde geskied op dieselfde beginsels as die Wêreld Rugby o.20 Kampioenskap.
Hierdie spelers sal ook kan vorder na o.20 rugby. Dit is die rede waarom Bafana Nhleko die spelers vergesel. Hy sal die afrigters van hierdie span, Katleho Lynch en Cobus van Dyk ondersteun en mentor.
Volgens Lynch mik die toer daarna om ‘n spankultuur te vestig en om kameraadskap te bou met die oog op die 2023 Wêreldrugby o.20 Kampioenskap. Hy sê ook dat hierdie spelers reeds vanaf 15-jarige ouderdom gemonitor word.
Die wedstryde teen Georgia is geskeduleer vir 4, 7, 11 en 14 Augustus.
Welgedaan Paul, Dian, Niel en Phillip! Oakdale is trots op julle!
Foto verskaf