Stigtingsdag. In hierdie 75 jaar lê soveel opgesluit: vreugde en voorspoed, liefde, lag, leed, maar ook lesse. Akademiese prestasies, oorwinnings op die sportveld, applous in die kultuurakker, ongekende leierskappotensiaal.
Op Vrydag, 26 Januarie 2024, het Hoërskool Despatch nie net die 75ste bestaansjaar van ‘n instansie gevier nie, maar ook 75 jaar van menswees – van ons eerste inskrywings in 1949 tot die nuutste inskrywings in 2024.
Hoërskool Despatch het sy roemryke geskiedenis op ‘n luisterryke dag van feestelikhede gevier.
Die dag het op die skool se rugbyveld met die leerders se vorming en uitbeelding van 75 begin. Daar is verjaardagkoek geëet en ‘n koeligheid het die dors geles.
Daarna het die verrigtinge na die NG Bothasruskerk geskuif. Eregaste, oudpersoneel, oudleerders, gaste, huidige leerders en onderwysers is deur ‘n erewag van leerderraadslede met skoolvlae verwelkom.
Tydens die vlagseremonie word daar 75 kerse aangesteek, verteenwoordigend van elke jaar en elke individu wat met hul teenwoordigheid hul spore by ons skool gelaat het.
Vier van die eerste leerders van ons skool woon die verrigtinge by: Duifie Barnard, Norma Bester, Claude Fourie en Judy Rautenbach.
Oudhoofde
Drie oudskoolhoofde, mnr. Jan Hurter, mnr. Cas Coetzee, asook mnr. Colin Bartle woon die feesgeleentheid by. Verder kom oudonderwysers en oudleerders van heinde en verre om die praggeleentheid saam met ons te vier.
Dr. ds. Jaco Barnard, oudleerder van 2000, open die verrigtinge met n besielende boodskap. Hy lê klem daarop dat daar in die 75 jaar baie veranderinge was, maar dat daar n konstante teenwoordigheid van God was. Hy het in al hierdie jare sy goedheid aan Hoërskool Despatch bewys. God sal ook in die toekoms Sy goedheid aan ons betoon.
Mnr. L. Coetzee, seun van die ontslape skoolhoof, mnr. Coetzee, deel die skool se geskiedenis met al die gaste.
Daarna hou Melody Kukkuk n huldeblyk van die drie ontslape skoolhoofde aan ons voor. Ons eer die nagedagtenis van: Mnr. Van Graan 1949 – 1954; Mnr. Coetzee 1954 – 1982 en Mnr. De Jager 1982, asook 1991.
Verskeie onderwysers en leerders het ons in hierdie 75 jaar vooruit gegaan. Ons eer ook hul nagedagtenis met ‘n kranslegging.
Janecke Schuin komponeer en sing ‘n spesiale liedjie vir die skool. Dit laat niemand onaangeraak nie en sorg vir hoendervleis op ‘n snikhete dag.
Gasspreker
Ons gasspreker van die oggend is Despatch se eie legende: mnr. Jan Hurter, skoolhoof 1983 tot 1990. Hy lewer n inspirerende toespraak en gee waardevolle lewenslesse aan die jeug. In n neutedop saamgevat lê hy klem op die feit dat die toekoms van die land en mensdom in die jeug se hande lê. Hy maan hulle om pligsgetrou te werk, om elke dag voluit te lewe, om groot te droom en om hard te werk om dit te verwesenlik.
In die sameloop van die lewe sal die suksesvolle mense baie kritiek ontvang, gewoonlik van die mense wat niks aandurf en bereik nie. Kritiek kom van mense wat self ‘n tekort in hul lewens ervaar en nie gelukkig is met hulself nie. Hy vra dat daar verby kritiek gekyk sal word, dat jy die goeie in jouself sal onthou en dat jy sal weet dat jy tot baie in staat is.
Hy rig die versoek aan die jongelinge dat hul altyd so sal leef dat Hoërskool Despatch trots op hulle sal wees.
Saam met mnr. Hurter se slotwoorde dat ons die vlam van Geloof, Hoop en Liefde hoog moet blaas, onthou ons ook weer die seënwens van ds. Jaco dat God elke oomblik van die 75 jaar met ons was en ook in die toekoms sal wees.
Mag almal wat die aflosstokkie by hul voorgangers vat, voortbou aan nog baie jare van voorspoed en seën. Mag elke vonkie steeds hier by ons geliefde skool ‘n vlam word.
Blaas hoog die vlam van: Geloof, Liefde, Waarheid en Arbeidsaamheid.











Meer skolenuus: https://schoolsthatrock.co.za
Foto’s verskaf
Become a Sponsor








