Skole gholf. Wanneer ’n mens dink aan sportsoorte by ’n meisieskool, is gholf een van die laastes wat by jou opkom, maar die gholfgogga het by Oranje gebyt.
Vir die eerste keer in Oranje se geskiedenis het die skool ’n gholfspan van vier lede! As me. Annelie Steyn, OMS-onderwyser, se visie vir die span realiseer, gaan dié meisies in die Bloemfontein-gholfliga speel én deel van die interskole word.
Oranje het ’n klomp bestaande en talentvolle gholfspelers wat geleenthede benodig. Daarom het me. Steyn vroeg vanjaar besluit om ’n gholfspan te organiseer. Hierdie span was onlangs op die Fichardtpark-sportdag in aksie – die enigste meisiespan tussen die seuns.
Me. Steyn speel self die afgelope 20 jaar gholf. Aan die begin het sy dit net as ’n ontspannende stokperdjie beskou, maar dit het vinnig in ’n passie ontwikkel.
Sy meen meisies geniet gholf omdat spansport nie vir almal is nie. Sy sê die gholfspan bied ’n geleentheid vir ervare asook nuwe gholfspelers om betrokke te raak en hulle talente só te ontwikkel.
Lize Janse van Rensburg (graad 9) is een van die span se jongste lede. Haar gunsteling-deel is die interaksie met mense en die vriende wat sy maak.
Sy speel al vanaf graad. 4 gholf en swaai bykans elke naweek saam met haar pa stokke. Lize sien veral uit dat gholf op die inters gespeel word. Sy sal die skool se naam daar hoog wil hou. Sy sê dis ’n groot eer om ’n lid van Oranje se heel eerste gholfspan te wees. – Deur Cara Conradie (Vooruit-redaksie)
Meer skolenuus: https://schoolsthatrock.co.za
Foto verskaf