Schools That Rock het ‘n paar vrae gevra aan Wian Muller en Jana Briel, Welkom Gimnasium se Hoofseun en -Meisie vir 2021.
Vraag: Waarna sien jy die meeste uit wanneer die 2021 skooljaar begin?
Jana: Ek sien uit om weer besig te raak en aan die gang te kom en weer my vriende en skoolmaats te sien.
Wian: Covid het ongelukkig tot gevolg dat baie tradisies tans nie soos normaalweg kan voortgaan nie. Ten spyte daarvan sien ek daarna uit om nuwe ervarings met my mede-matrieks te deel en herihheringe te maak wat my lewenslank sal bybly.
Vraag: Is daar enige aanpassings/ veranderinge wat jy graag wou sien by Welkom Gimnasium?
Jana: Ek sal graag die leerders wil aanmoedig om meer deel te neem aan die skool se aktiwiteite en geesbou om weer daarde Gimmie-trots terug te bring na die skool.
Wian: Welkom Gimnasium was juis die skool van my keuse omdat ek hou van die manier waarop hulle dinge doen – met oorgawe en integriteit. Ek is en sal altyd ‘n trotse Gimmie bly.
Vraag: Indien jy iemand moet oorreed om Gimmies hul keuse te maak, wat sal dit wees?
Jana: Gim het ‘n ongelooflike ondersteuningstelsel tussen die oulike skoliere, hardwerkende onderwysers en fasiliteite van dié skool kan ‘n mens soveel makliker jou potensiaal vir sukses in jou skoolloopbaan bereik. Ek glo ons skool fokus op die leerders en hoe om hulle lewens, werk en sport na die volgende vlak te vat, eerder as net op die “reputasie en naam” van die skool. Dit is vir my belangrik en ek voel dit kan ‘n groot verskil in ‘n leerder se hoërskoolloopbaan maak.
Wian: Kom kyk na die resultate wat ons skool op alle gebiede behaal – die feite spreek vanself!
Vraag: Wie is jou rolmodel by jou skool?
Jana: Meneer Slabbert is my rolmodel by ons skool. Hy is die skoolhoof sowel as die Skeinat onderwyser. Sy passie vir sy werk en al sy ekstra ‘effort’ is bewonderenswaardig. Hy sal altyd die werk oor en oor verduidelik as ‘n kind iets nie verstaan nie en vir ons ekstra oefeninge en voorbeeld-vraestelle gee sodat ons nie stres oor toetse of eksamens nie. Hy het selfs sy Saterdae en ander afdae opgeoffer om vir ons ekstra klasse in te werk en te help om te verseker dat ons so gemotiveerd en voorbereid as moontlik is.
Wian: Ek het baie rolmodelle. Ek glo dat mens die beste in ander moet raaksien en daardie eienskappe moet nastreef.
Vraag: Watter sportsoort is jou gunsteling?
Jana: Ek is baie lief vir Hokkie. Ek speel al vandat ek 6 jaar oud is en hoop om aan te hou daarmee na skool ook.
Wian: Sonder twyfel rugby!
Vraag: Wat is jou gunsteling gereg?
Jana: Ek is ‘n sucker” vir ‘n tuisgemaakte lasagne met knoffelbroodjies.
Wian: As jy dit kan gaarmaak, eet ek dit!
Vraag: Watter loopbaan wil jy volg na skool?
Jana: Ek wil graag Aktuariële wetenskappe swot om ‘n Aktuaris te word in die toekoms.
Wian: Ek sal graag ‘n loopbaan wil volg wat verband hou met landbou of natuurbewaring.
Vraag: Na watter universiteit wil jy volgende jaar gaan?
Jana: Ek sal graag na Stellenbosch Universiteit toe wil gaan.
Wian: Ek is tans besig om te kyk watter universiteit vir my die beste geleenthede bied vir my belangstellingsveld.
Vraag: Wat is jou boodskap aan jou mede-skoliere vir 2021?
Jana: Ons is almal die resultaat van ons omgewing en ek glo die Gimmies is van die beste mense in die wêreld waarmee jy jouself kan omring. Soveel van ons huidige omstandighede is verwarrend omdat ons dinge doen wat heeltemal nuut is sonder om te weet hoe dit werk en wanneer dit gaan eindig. Maar ek moedig jou aan om jouself te verswelg in die warboel daarvan. Ek weet dis al tot vervelens gesê, maar wees lief vir jouself en vir almal om jou. Ons sal saam hier deur druk.
Wian: Benut alle geleenthede wat die skool bied en wat op jou pad kom. Behou hoop in die slegte tye en wees altyd dankbaar en nederig. Welkom Gimnasium is ‘n skool om op trots te wees!
Foto verskaf
Become a Sponsor








