Vraag: Hoe sien jy die invloed van die Covid19 virus op ons land?
Die verandering wat die virus gebring het is onmiskenbaar. Die virus (uit my ervaring en perspektief uit), het ‘n ongelooflike positiewe skuif onder die Suid-Afrikaanse burgers, na waardering vir ons president en almal in samewerking met hom gemaak. Die onvermybare stappe wat geneem moes word om die pandemie se effek te versag, het wel op soveel ander vlakke onbeskryflike negatiewe effekte gehad. In retrospek dink ek die virus sal ‘n goeie invloed op die samewerking van ons land hê, wat bitter belangrik gaan wees om die skade aan die land gedoen (deur die virus) weer te herstel.
Vraag: Dink jy dat die virus ‘n invloed op toekomstige onderwys gaan hê? Gaan skole anders kyk na onderwys?
Verseker. Ek dink meeste van ons vorige manier-van-dinge doen is iets van die verlede. Daar mag individue wees wat besef het hoeveel beter aanlynklasse of selfs “homeschooling” vir hul is, alhoewel, ek nie oortuig is dat dit vir almal die saak sal wees nie. Ek kan nie insien waarom skole anders sal kyk na onderwys as gevolg van die virus nie, maar die nood daarvoor en die moeite wat ingesit word om die onderwys te laat voortgaan het wel vir almal duidelik geword.
Vraag: Hoe/wat beplan jy om steeds jou doelwit vir jou laaste jaar op skool te bereik?
Vir my was ‘n groot deel van my doelwit vir my laaste jaar van my skoolloopbaan om die jaar te geniet! Om baie positief te klink, moet ek erken, dat ek steeds dink dit is moontlik met my groep vriende, maar net glad nie op dieselfde manier as wat enige van ons verwag het nie. Die langtermyn doelwit waarvan my laaste skooljaar uitgemaak het, was om te kan aansluit by tersiêre onderwys die jaar wat volg. Dit beteken om steeds hard te werk in die akademiese veld. Dit het verseker nie verander nie. Met ander woorde is ek van plan om nuwe maniere te kry om steeds die skooljaar te geniet en om soveel moontlik in my vermoë doen om akademies nie teleur te stel nie.
Vraag: Wat beplan jy vir jou toekoms? Loopbaan?
Ek was tot baie onlangs grotendeels onseker met wat ek die res van my lewe gaan volmaak, maar met vele navorsing en toetse kan ek met baie opwinding sê dat ingeskryf en aanvaar is vir Meganiese Ingenieurswese vir 2021. Ingenieurswese is ‘n fakulteit wat (volgens wat ek hoor) jou toelaat om nog te groei in die spesifieke rigting waarin jy geïntereseerd is vir die eerste jaar of twee van jou studies; ek vir een, kan nie wag om die verskillende afdelings in die rigting te ondersoek nie.
Ek sal ook graag wil byvoeg dat die invloed van die virus (lockdown) my gesin kon nader bring aan mekaar wat ons self onbewus was, was ‘n nood. Ek kan nie wag om oor 5 of 10 jaar al die inspirerende stories hieruit van soveel ander gesinne te hoor nie.