Schools That Rock het ‘n paar vrae gevra aan JC Nolan, Hoofseun van Hoërskool Hennenman.
Vraag: Waarna sien jy die meeste uit wanneer die 2021 skooljaar begin? Ek sien uit daarna om weer my vriende en medeskoliere te sien. Ek is ook opgewonde om te weet dat dit my finale skooljaar is en ek gaan dus alles in my vermoë doen om 2021 ‘n hoogtepuntjaar te maak!
Vraag: Is daar enige aanpassings/ veranderinge wat jy graag wou sien by jou skool? Tans dink ek nie daar is enige aanpassings wat ek sou maak nie. Indien daar egter veranderinge gemaak moet word, sal ek my volle samewerking gee om dit te help bewerkstellig.
Vraag: Indien jy iemand moet oorreed om Hoërskool Hennenman hul keuse te maak, wat sal dit wees? Ek weet dat ons skool hoë kwaliteit onderrig en afrigting bied. Ons skool het ook nog altyd ʼn lekker gees gehad en dis maklik om nuwe kinders te laat voel hulle is deel van die Hennie-familie.
Vraag: Wie is jou rolmodel by jou skool? Juffrou Brenda Hoffman, ons skoolhoof, het my geleer hoe om ʼn sterk leier en goeie voorbeeld vir ander te wees … en om nooit my drome op te gee nie.
Vraag: Watter sportsoort is jou gunsteling? My gunsteling sport is definitief krieket.
Vraag: Wat is jou gunsteling gereg? My gunsteling gereg is my ma se kookkos! Dit sal my altyd aan my ouerhuis laat dink (‘home sweet home’) en dit is verskriklik lekker!
Vraag: Watter loopbaan wil jy volg na skool? Ek wil graag in ʼn mediese rigting gaan studeer – meer spesifiek in sielkunde.
Vraag: Na watter universiteit wil jy volgende jaar gaan? Die Universiteit van Stellenbosch.
Vraag: Wat is jou boodskap aan jou mede-skoliere vir 2021? My boodskap aan my vriende en medeskoliere is om altyd jou beste te gee – hetsy dit sport, akademie, jou vriende of jou medemens is… gee altyd 100%. En onthou: dit wat jy vandag doen of besluit, bepaal jou toekoms!