Dit is vir Schools That Rock ‘n voorreg om Oakdale se 1ste span tenniskaptein, Jacobus Esterhuyse, aan die besoekers van ons webtuiste voor te stel.
“Tennis is en was ‘n groot liefde vir my van kleins af. Vandat ek kon loop het ek enige sport met ‘n bal probeer.
In my hoërskooljare het ek tennis werklik ernstig begin opneem. Ek is tans die No. 1 op die ranglys by HLS Oakdale, maar soos die lewe is, begin jy onder. In Gr. 9 het ek die laaste posisie in die 1ste span beklee en het met toewyding en harde werk gevorder tot No. 1 in graad 11.
Van 0/14 tot 0/16 was ek in ‘n leiersposisies by verskeie sportspanne.
In die somer oefen ons as span ten minste 6 ure per week. Naweke en vakansies neem ek deel en rig af by klinieke wat deur ons afrigter, Mnr. Wimpie Helmand, aangebied word. Ek geniet enige sport en is ook deel van die 1ste rugbyspan, gholfspan en neem ook deel aan atletiek.
Ek geniet beide individuele asook spansport. As kaptein is dit my werk om te sorg vir positiwiteit. Ek moet die manne gemotiveerd hou en hulle ondersteun en lei deur my voorbeeld.
Ek beplan om BSC Grondkunde en Hortologie na skool te studeer, maar sou graag steeds tennis vir my koshuis op Universiteit wou speel.”