Dit is vir Schools That Rock ‘n voorreg om Oakdale se 1ste span rugbykaptein, Paul de Villiers, aan die besoekers van ons webtuiste voor te stel.
“Rugby was nog altyd deel van my verwysingsraamwerk. Ek speel al van die ouderdom 6 jaar.
My gunsteling posisie is oop-kant flank met die No. 6 op my rug. Daar was al tye wat ek die No. 8 trui ook oor my kop getrek het. Vanaf 0/14 was ek jaarliks die kaptein van die rugbyspan waarin ek gespeel het. Ek het ook as kaptein vir die 0/16 Grant Khomo span uitgedraf. Ek was beide in die 0/16 en 0/18 spanne ingesluit in die SA Rugby Elite Squad. Daaroor is ek baie nederig en dankbaar.
Ons oefen daagliks ten minste een sessie. Ek probeer ook om in tye wat ek vry is so bietjie ekstra te oefen en te fokus op kleiner aspekte en daarop te verbeter. In die somer geniet ek atletiek en neem deel aan die items 800m en 1500m. Ek verkies spansport bo individuele sport en daarom is en bly rugby my gunsteling sport. My visie is om as kaptein van die span te lei met my voorbeeld. In moeilike tye sal dit van my verwag word om die span as ‘n eenheid bymekaar te hou en punte op die telbord te sit.
My droom is om van rugby ‘n loopbaan te maak na skool.