Rugby Kapteins. In ons reeks oor sport kapteins, gesels Schools That Rock vandag met Wihan Vorster. Wihan is die kaptein van Hoërskool Durbanville in Kaapstad se 1ste rugbyspan. Hy druk vandag die tiende drie in ons reeks oor Rugby Kapteins van hoërskole in Suid-Afrika.
“Ek het begin rugby speel vir O.9, in Graad 3, toe my pa dit uiteindelik reg gekry het om my te oortuig om rugby te speel. Behalwe dat rugby iets is waaraan ek gewoond is om te doen, bou dit ‘n vriendskap wat anders is as normale vriende. Jy gaan op toere, bou beter verhoudings en leer mense ken op ‘n ander manier. Dis hoekom ek daarvan hou. My pa en oupa het rugby gespeel en ek is in ‘n rugby-liefhebbers huis groot gemaak. Rugby is op ‘n manier deel van my, ek ken dit.
Hoe dit gevoel het toe ek my eerste wedstryd gespeel het? Sjoe, dit was baie lank terug. Maar een ding waarvan ek seker is, is dat ek definitief bang was, maar ook op ‘n manier ook opgewonde.
Aan beginners kan ek net sê, dis belangrik om jou rugby te geniet, maar jy moet so gou as moontlik leer om ‘n wenner te wees en dat niks jou gaan keer nie.
Tans speel ek losskakel, nommer 10. In die verlede het ek ook al skrumskakel en binne senter gespeel.
Eerste keer kaptein
Ek is die eerste keer In graad 9, o/15, as kaptein gekies. Verlede jaar was ek die kaptein van Durbies se tweede span en dan hierdie jaar van die Eerste span. Ek beskou die grootste taak van die rugby kaptein om my leierskap en motivering te behou en “ownership” te vat as dinge verkeerd loop.
Ek hou my span gemotiveerd deur almal saam te roep. Op ‘n manier skel ek so bietjie, maar praat ook met hulle. Die ouens is darem goed genoeg om dit te verstaan en dan dinge reg te maak.
Ons oefen vier middae in die week asook twee oefeninge in die oggend voor skool. Ek het gewoonlik self geoefen in die gym, maar in my matriekjaar het dit definitief verminder.
Ek dink op die rugbyveld is elkeen ‘n leier in die span. Leierskap is ‘n belangerike eienskap en kwaliteit. Deursettingsvermoë is definitief ook belangrik, veral op tye wat dit kan moeilik raak. Selfdissipline is ook ‘n belangrike kwaliteit. Om ‘committed’ te wees en op tyd te wees is ook baie belangrik!
My sleutel tot sukses is strategie. As almal hulle werk doen en nie selfsugtig is nie en hou by “die gameplan” kan niks verkeerd loop nie.
Inspirasie
Wat my elke keer wanneer ek op die rugbyveld stap inspireer, is die ouens saam met wie ek speel. Dit is ook ‘n voorreg vir my om saam met die res van my span die herinneringe te kan deel en om saam met hulle deur die maklike en moeilike tye te gaan.
In my rugby loopbaan tot nou was my lekkerste wedstryd definitief aan die begin van die jaar toe ons vir Helpmekaar Kollege gewen het. Die feit dat niemand gedink het ons gaan wen nie, het dit net soveel meer laat beteken.
As rugby kaptein hanteer ek druk tydens wedstryde deur te ‘stick to the basics‘. Ek dink dis belangrik om die ‘basics’ eerste reg te doen en dan, na dit, aan te beweeg. As mens dan iets meer ‘fancy’ wil doen, sal jy minder gespanne wees.
Wanneer ek ‘n moeilike wedstryd agter die rug het, soek ek dan hulp of raad by my pa. Hy was ook al deur dit alles, so sy raad help altyd baie en sy kennis oor die sport en spel is ook goed.
My huidige top 5 prioriteite in die lewe is sport, akademie, vriende, familie en my metgesel.
Jean de Villiers
My grootste rugbyheld is Jean de Villiers.
Die doelwitte wat ek graag vanjaar wil verwesenlik is om die Interskole wenners te wees en om definitief aanvaar te word by ‘n universiteit.
Die speler in ons span wat my die meeste verras tydens enige wedstryd, is Monré (Nonnie). Niemand het geweet hy kan skop, tot die dag voor Helpmekaar se wedstryd nie. Vanaf daardie wedstryd is daai skopvoet van hom heilig.
Ons het twee narre in ons span – Steven (Krat) wat tans nommer 12 speel en Khirwan die goat wat huidiglik nommer 15 speel. Hulle twee is op ‘n ander planeet, maar dit is tog so ‘n belangrike aspek van ons span.
My afrigter en spanlede sal my hopelik as ‘n goeie kaptein beskryf, maar julle moet hulle maar self vra.
Of ek beplan om na skool voort te gaan met rugby, is nie op die oomblik my plan A-nie, maar as ek die geleentheid kry sal ek dit definitief oorweeg.
Grootste uitdagings
Ek dink die grootste uitdagings waarvoor sportlui vandag staan, is maar altyd beserings. Ek dink met verskeie sportsoorte stel jy jouself definitief op ‘n manier in gevaar en jy sit jou lyf ook op die spel.
Hoe hanteer ek my verantwoordelikhede by rugby saam met my sosiale en akademiese verantwoordelikhede? Wel, dis baie belangerik om jou tyd goed te bestuur sodat jy kan besluit wat jou belangrikste prioriteite is.
Wat my die meeste opgewonde in die lewe maak is wanneer die Springbokke wen!
Daar was verskeie hoogtepunte die afgelope vyf jaar in my lewe. Toe ons vir Helmekaar gewen het en ook vir SACS, maar ook toe ons skool in 2019 interskole gewen het.
Ek sal graag wil koffie drink saam met Jean De Villiers. Hy is al ‘n rolmodel van my vanaf my laerskool dae. Ek sal baie graag sy insig en stories oor dinge wil hoor.
Ek sal myself in een woord beskrys as honger/lojaal”.
Meer skolenuus: https://schoolsthatrock.co.za
http://www.durbanvillehs.co.za/
Foto verskaf