Rugby Kapteins. In ons reeks oor sport kapteins, gesels Schools That Rock vandag met Heinz Meintjies. Heinz is die kaptein van Hoërskool Langenhoven, Riversdal, se 1ste rugbyspan. Hy druk vandag die sewentiende drie in ons reeks oor Rugby Kapteins van hoërskole in Suid-Afrika.
“Ek het op die ouderdom van agt begin rugby speel. Ek hou van rugby want dis ‘n kans waar jy al jou emosies kan uithaal. My Pa het my oorreed om rugby te speel.
Wat ek kan onthou van my eerste wedstryd, is dat ek baie op my senuwees was.
My raad aan beginners is dat jy nie moet bang wees nie. As jy bang is, word jy beseer.
Die posisie wat ek tans speel, is nommer 8. Ek het ook al flank, haker en skrumskakel gespeel.
Die eerste keer wat ek as kaptein gekies is, was toe ek onder 9 rugby gespeel het. Ek dink die grootste taak van ‘n rugby kaptein is om al die regte besluite te neem. Dit is ook die kaptein se plig om vir sy spanmaats ‘n motivering te wees. Ek hou my spanmaats gedurende wedstryde gemotiveerd deur vir hulle te sê om nie na die telling te kyk nie en net dít te doen wat ons geoefen het.
Ons span oefen drie keer per week. Ek oefen self ook ses keer per week in die gym.
Bekwaamhede
Ek dink die bekwaamhede waaroor ‘n goeie rugbyspeler moet beskik, is om karakter te kan toon en ook om uithouvermoë te hê.
My sleutel tot sukses op die rugbyveld is om alles voluit te doen. Nie net tydens ‘n wedstryd nie, maar ook by oefeninge. Wat my inspireer elke keer wanneer ek op die rugbyveld draf vir ‘n wedstryd, is my mede-skoliere wat opkyk na my.
Ek moet sê, my lekkerste wedstryd was teen Hoërskool Bredasdorp. Ons het geweet hulle is nie een van die maklikste spanne nie, maar op die ou einde het ons hulle oorwin. Die oorwinning is behaal deur om as ‘n span saam te speel.
Die wedstryd wat ek nie lank wil onthou nie, was ons wedstryd teen Hoërskool Overberg van Caledon. Dit was my slegste wedstryd omdat ons nie gereed was vir hulle nie en hulle was op die einde van die dag die beter span.
Ek hanteer druk op die veld deur myself kalm te hou. Ek oorweeg ook al my opsies deeglik voordat ek besluite neem.
Beste Rugby-besluit
Die beste rugby-besluit wat ek geneem het, was om SWD proewe te gaan speel. Alhoewel ek nie ingekom het nie, het ek baie geleer.
Wanneer ek ‘n moeilike wedstryd agter die rug het, vra ek altyd hulp en raad by my vriende in die koshuis. Hulle verskaf altyd die beste raad en gee ook die meeste hulp.
My huidige top vyf prioriteite in die lewe is:
1) Om matriek met goeie punte te slaag
2) Om eendag ‘n sukses van my lewe te maak
3) Om ander te help waar ek kan
4) Om aan myself te werk en heeltyd te verbeter
5) Om nie fokus te verloor op my doelwitte nie
My grootste rugbyheld is Eben Etzebeth.
My grootste doelwit wat ek hierdie jaar wil verwesenlik, is om my wiskunde punte op te stoot.
Cheslyn Abrahams
Die persoon in ons span wat my die meeste verras, is Cheslyn Abrahams. Hy is nie van die grootste spelers in die span nie, maar hy speel ‘n goeie ‘game’!
Die grootste ‘nar’ in ons span is Deon Karstens.
Ja, ek beoog om voort te gaan met rugby na skool. Ek sal maar eers klub-rugby speel en dan maar kyk hoe ver dinge van daar af gaan.
Ek dink die grootste uitdagings waarvoor vandag se sportlui te staan kom, is die kwota stelsel. Daar gaan baie goeie spelers verlore as gevolg daarvan en dit is ‘n groot uitdaging.
Ek hanteer my verantwoordelikhede by rugby saam met my akademiese en sosiale verantwoordelikhede deurdat ek my sport net so ernstig opneem soos my ander verantwoordelikhede.
Wat my die meeste opgewonde in die lewe maak, is om Vrydae op die bus te klim en te weet ek gaan huistoe, na ‘n lang week.
My grootste enkele hoogtepunt die afgelope vyf jaar, was toe ek onder 15 gespeel het en ons die interskole gewen het.
Die professionele rugbyspeler met wie ek graag wil koffie drink, is Bakkies Botha.
Ek sal myself beskryf as aanpasbaar.”
Meer skolenuus: https://schoolsthatrock.co.za
Foto verskaf