Die kaalvoet seuntjie uit die Karoo verander toe in die koning van middelafstande in Kimberley. Wat ‘n voorreg was dit om hierdie positiewe, nederige seun gedurende sy hoërskooljare tot ‘n ongelooflike sportman te sien ontwikkel; van ‘n teruggetrokke kind tot ‘n rolmodel vir soveel jonger leerders en atlete.
Romeo het vir 5 jaar baie hard gewerk, vakansies die stofpaaie van Williston en die Karoo aangedurf en dan sy staal op die atletiekbaan kom wys. Hy het kaste vol medaljes en toekennings ontvang. Hier volg slegs sy 2019-uitslae:
- HNK-KLEURE-ATLETIEK 2019: Romeo verstom die skool met sy talent in die 400m en 800m met ‘n goue medalje in beide items.
- Tydens die DHS-Uitnodigingsbyeenkoms ontvang hy ‘n goue medalje in die 800m en ‘n silwer in die 400m.
- Op Hartswater se TOP 20, ontvang hy ‘n silwer medalje in die 200m, waar die byeenkoms daarna uitreen.
- Op die Frances Baard Distriksbyeenkoms, verwerf hy ‘n silwer vir die 200m en ‘n goud in die 400m.
- Romeo beleef ‘n wonderlike dag in Upington tydens die NOORD-KAAP PROVINSIALE BYEENKOMS, toe hy die provinsie se spoedvrate verras en ‘n goud in 400m sowel as die 200m verwerf.
- Romeo word in 2019 gekies as lid van die NOORD-KAAP PROVINSIALE ATLETIEKSPAN om aan die Suid-Afrikaanse Hoërskole Atletiekbyeenkoms te PORT ELIZABETH in Maart 2019 te gaan deelneem. Dan behaal hy ‘n welverdiende 5de plek in SA.
- Hy neem deel aan die TWIZZA ASA Onder 18 en – Onder 20 byeenkoms in die Paarl, waar hy ‘n 7de plek in die Mans Junior 400m-finaal in ‘n blitsige tyd van 47.88sek verdien.
- Romeo het as een van AGW-atletiek se atlete die gulde geleentheid gekry om as deel van die SA 4 x 400m-span aan die 2020 IAAF WORLD UNDER 20-CHAMPIONSHIPS in Julie in Kenia te gaan deel neem.
Romeo van Wyk gaan beslis nie die volgende Wade van Niekerk wees nie…hy IS die volgende Suid-Afrikaanse wenner, ROMEO VAN WYK. Romeo het HNK se atletiek weer op die ‘map’ gesit met sy ongelooflike talent. Mag God hom ook in die toekoms op die sportveld seën. Dankie, Williston en die Karoo dat jul hierdie wonderkind vir ons geleen het.