Schools That Rock het aan ‘n aantal skoolhoofde gevra hoe hulle die toekoms van die onderwys in Suid-Afrika sien na aanleiding van die uitwerking van Covid-19.
Dr André Smith, skoolhoof van Primêre Skool Jordania in Bethlehem is eerste om sy mening te gee.
Ingesteldheid
Hier by Jordania sê ons altyd dat ons ‘n 100% skool is. Die 100% staan daarvoor dat ons altyd ons beste vir mekaar en vir die skool sal doen deur met die regte gesindheid dinge aan te pak. Ook in hierdie inperkingstyd met al sy regulasies en maatreëls het ons steeds gepoog om dinge so gedoen te kry. Die belangrikste is om steeds reg op te tree en die regte ding te doen, nie die maklike ding nie. Die maklikste ding om tydens hierdie inperkingstaat te doen is om niks te doen nie, om te gaan lê of die skuld vir alles wat anders en problematies is op die virus te pak. Maar as almal so optree en so ‘n gesindheid het, sal ons nie veel gedoen kry nie. Dit is juis nou wat ons 100% gesindheid moet uitstraal en die voorbeeld vir ander moet stel deur ons optrede. As ons elke dag ons beste doen, die regte ding doen en moeite doen, sal dit steeds goed gaan met ons.
Uitgangspunt oor die sluiting van skole
Daar is talle persone en instansies wat versoek het dat skole moet sluit, terwyl ander weer daarteen was. By Jordania is ons opinie dat skole slegs behoort te sluit as omstandighede onveilig is vir leerders en personeel. Totdat dit gebeur behoort almal volstoom onderrig aan die leerders te verskaf. As kinders om veiligheidsredes nie skool toe kan gaan nie, moet ouers ook nie werk toe en dorp toe gaan nie. Die kanse dat hulle op ander plekke die virus kan opdoen, is veel groter. Soms is dit juis die persone wat wil hê dat die skole moet toemaak, wat bereid is om hul kinders saam winkels toe te neem, by vriende te kuier (sonder maskers) en om in voertuie saam met vreemde mense te ry. Kinders het nodig om interaksie met ander te hê vir die opbou van hul eie gemoed en geestestoestand. Maar na alles gesê is respekteer ons die besluite van die owerhede en sal rondom dit steeds planne maak om die beste onderrig moontlik vir leerders te verskaf.
Akademiese werk
Ons het reeds fluks met die skoolwerk gevorder. Ouers hoef dus steeds nie bekommerd te wees oor hul kinders se akademiese werk of die afhandeling van die akademiese jaar nie. Kinders sal nie die jaar hoef te herhaal nie. Planne sal gemaak word sodat leerders almal steeds hul graad goed sal kan slaag.
Ons versoek ouers om ons van hulp te wees deurdat werk vir hulle beskikbaar gestel word wat by die huis gedoen kan word totdat skole weer mag open. Ons gebruik tans twee platforms om akademiese werk uit te stuur. Whats App-klasgroepe word gebruik omdat meeste ouers dit beskikbaar het en dit maklik is om so te kommunikeer. Nuusbriewe en ander belangrike dringende boodskappe word ook per WhatsApp gestuur. Verder word skoolwerk ook op die D6 School Communicator platform gelaai.
Die toekoms van Onderwys by Jordania
Die skool is reeds geregistreer by die Wolkskool van die Skoleondersteuningsentrum. Personeel is tans besig om opleiding te ontvang om ook in die toekoms hierdie aanlynplatform te gebruik. Dit sal ons in staat stel om al hoe meer te beweeg na vervlegte leer, wat tradisionele kontakonderrig asook aanlynleer insluit. In die onseker tye wat vir ons voorlê met die Covid-19 situasie, of enige ander krisis wat in die toekoms mag opduik, sal dit ons as skool steeds in staat stel om akademiese werk van verskeie bronne te gebruik en te kan toepas in die onderrig van ons leerders. Ons glo ook dat ons die grootste gedeelte van ons leerders daardeur sal kan bereik.
Schools That Rock bedank Dr Smith vir die positiewe siening wat hulle by die Jorries openbaar.