Met sportdeelname maar yl gesaai vanjaar weens Covid-19, sal 2020 se sportjaar by Oranje Meisieskool dalk eerder onthou word as die jaar van die sussies.
Vyf pare susters het hulle vanjaar in die skool se topspanne bevind. Twee pare was in die eerste hokkiespan, een in die tennisspan, een in die netbalspan en een in Oranje se atletiekspan (na die Vrystaat kampioenskappe).
In al vyf gevalle is die ousus in matriek. Die sussies is:
Atletiek: Anna (gr. 12) en Marilet Blom
Hokkie: Matilé (gr. 12) en Naudene Prinsloo (gr. 10) & Mikkela (gr. 12) en Nicóle le Roux (gr. 10)
Netbal: Lisa (gr. 12) en Lea Cronjé (gr. 10)
Tennis: Inge (gr. 12) en Liné Greyling (gr. 10)
Daar was selfs susters onder die afrigters vanjaar. Cornelle Holzhauzen en Arijana Botha sou onderskeidelik die o.14A en -B-hokkiespan afgerig het. Albei is oud-Oranjes.
Die Cronjés is saam met Nicola en Marétha van Heerden (2014 en 2015) die enigste gevalle in die laaste dekade om saam vir die eerste netbalspan uit te draf.
In die laaste tien jaar was daar twee pare gesinslede in die eerste hokkiespan. Minke en Sonika van Heerden het vier jaar (2013-2016) lank saam gespeel en in 2014 was Antonet en Frances Louw spanmaats.
Sussies saam in die eerste tennisspan is geen ongewone gesig by Oranje nie. Die Greylings is trouens die vyfde stel sedert 2010.
Die ander was Louise-Maré en Huibré-Maré Botes (’n tweeling, 2011-2013), Lise en Hanri Stofberg (’n tweeling, 2014-2016), Carita en Lize Moolman (2012) en Carmen en Kristen Fichardt (2018-2019).