Netbal Kapteins. In ons reeks oor sport kapteins, gesels Schools That Rock vandag met Kaylin du Toit. Kaylin is die onder-kaptein van Hoërskool Strand, Wes-Kaap, se 1ste netbalspan. Sy teken vandag die dertiende doel aan in ons reeks oor Netbal Kapteins van hoërskole in Suid-Afrika.
“Ek het op die ouderdom van 8 jaar oud begin netbal speel. Ja, ek is werklik passievol oor netbal. Omdat ek al vir so lank netbal speel, is dit in my. Dit is my talent, dit is wie ek is. Buiten netbal neem ek ook aan atletiek deel.
Die posisie wat ek tans speel is V. Dis my hoofposisie en ek speel ook soms HV. Maar as my ‘coach’ my nodig het op ‘n posisie is ek daar, want soos hulle sê: ‘n goeie netbalspeler kan enige posisie speel. In die verlede het ek verbasend HD gespeel.
Ons oefen 3 keer ‘n week, Maandae, Dinsdae en Donderdae. Ek oefen op my eie wanneer ek ‘n tydjie kry. Matriek hou ‘n mens maar besig!
Die wedstryd wat ek die meeste gestres het, was my eerste eerstespan netbalwedstryd. Die rede is, dit is ‘n ander vlak en ervaring van netbal. Dit is jou tweede werk in die skool en ek is iemand wat nie hou van “disappointment” nie. So ek was bang en gestres oor hoe ek gaan speel.
My korttermyn doelwitte is dat ek my skoolwerk en punte wil verbeter. Ek wil ook na myself kyk, soos my gesondheid, my fiksheid en my gewig (ek wil aan myself werk). My langtemyn doelwit: In die volgende jaar wil ek goeie punte behaal sodat ek die vereistes het om te kan gaan studeer en iets te maak van my lewe.
Vyf prioriteite
My top vyf prioriteite tans in my lewe is: God, my familie en vriende, my kêrel en my skoolwerk.
Ja, ek wil definitief na skool voortgaan om netbal te speel. Ek wil baie graag vir Maties speel. As dit nie dadelik uitwerk nie, wil ek dan net vir ‘n ander senior klub speel sodat ek aan myself kan werk en myself verbeter. As ek ‘n geleentheid kry om vir Maties te speel, dan weet ek, ek het gewerk vir dit. In die volgende drie jaar wil ek top fiks wees en na my gesondheid kyk. Ek gaan meer wil oefen om na my vorm te kyk sodat ek ‘n goeie liggaamsbou het, nie net vir die netbal nie maar ook vir myself.
Ja, ek het tekortkominge in my spel, my obstruksie en my kontak. Ek verbeter dit deur my ‘coach’ se raad te vra. Ek pas dit toe en leer myself om dit te verander en te verbeter al is dit nog nie 100% nie.
Ander belangstellings
Ander belangstellings buiten netbal is my liefde vir die see. Ek sal heeldag by die see wil wees. Dit is my plek om kalm te wees. As ek kon perdry sal ek dit ook heeldag doen – ek is verlief op perde.
Wat my laat glo dat ek ‘n goeie netbalspeler is, is dat ek die spel baie goed kan lees en as gevolg daarvan kan ek goeie balle onderskep.
Ek help om ons span gemotiveerd te hou deur positief te wees. Ek sê ook vir die span om foute te maak is ‘okay’, maak dit reg en gaan aan. Dink netbal, en moenie dat die titel “o.19A” jou laat voel of dink dat jy nou soos ‘n eerstespanspeler speel nie. Jy het op een manier in die span gekom en dit was deur te speel hoe jy speel. Moenie te veel aan jouself twyfel nie, jy is vir ‘n rede gekies. Jy het potensiaal en talent, gebruik dit en “embrace” dit.
Uitdagings
Ek dink die grootste uitdagings van die meeste deelnemers aan sport vandag is motivering en gees.
Hoe ek my sport-, akademiese en ander verpligtinge bestuur? Ek gaan eerlik wees, ek het nie heeltemal ‘n roetine nie. Ek gaan oefening toe, kom by die huis, doen wat ek moet doen en dan begin ek met my skoolwerk. As ek nog tyd en krag het, sal ek opsommings doen. Ek probeer ten minste elke dag ‘n bietjie opsom. Ek sukkel soms om albei te bestuur maar ek doen wat ek kan doen.
My grootste netbal-nagmerrie was in my eerste jaar wat ek in die eerste span was. Ek het amper my plek verloor, aangesien my spel nie op standaard was nie. Die “coaches” het my ‘n geleentheid gegee, en ek speel steeds vir die eerste span!
Ek het geleer dat netbal nog altyd spanwerk is. ‘n Mens besef net weer hoe belangrik dit is om saam te werk want dit kom saam met vertroue en dis hoe ‘n mens wen. There is no I in Team.
Hoogtepunte wat ek beleef het in netbal as speler en as onder-kaptein? As speler was ek al aangewys as die beste speler. As onder-kaptein is dit my eerste ervaring om met ‘n span te werk en net om dit te beleef, was ‘n hoogtepunt vir my.
Positiwiteit
Ek het al baie na ‘n wedstryd gesê wat verkeerd gegaan het en wat ons moet verander. So ek praat baie van vertroue en die positiwiteit op die baan en met mekaar. Ek noem dit elke keer totdat dit toegepas word en elke wedstryd sien ek dit net meer en meer. Ook het ek al gepraat van waar ons baie in mekaar se spasies hardloop. Hoe meer ek dit sê, hoe minder gebeur dit en dit wys net ook vir my dat hulle luister wat ek sê en hulle besef dit ook.
Wanneer spanlede sukkel met nuwe uitdagings in die spel, gee ek raad en wys hoe om dit te doen. Ek help tot sy dit reg doen en onthou wat ek gesê het.
Die beste advies wat ek al van afrigters ontvang het, is ‘hard work beats talent when talent doesn’t work hard. Moenie probeer om soos ‘n eerstespan speler te speel nie, speel soos wat jy speel. Dit is hoe jy in die eerste span gekom het. Van daaraf het my ‘mindset’ verander.
My lekkerste wedstryd wat ek ooit gespeel het was teen Porterville, 2022. Dit was een van my beste “games”. Ek het nog nooit so ‘n “amazing game” gehad nie. My “coach” en spanbestuurder het nog daai dag gesê dat dit my beste wedstryde ooit was en ek kon dit voel. Die Here het my aan my vingerpunte gevat en ek het gerek vir daai balle en die balle onderskep en dit veilig aan die ander kant gekry.
My afrigter en spanlede sal my beskryf as ‘n hardwerkende en bemoedigende persoon, positief en altyd vol gees en ‘n goeie leier en weet waarvan sy praat as dit by ‘n wedstryd se spel kom.
Erin Burger
Die professionele netbalspeler met wie ek graag wil koffie drink is Erin Burger. Sy was eenkeer by ons en sy het vir ons goed geleer om ons sterker te maak en om ons te verbeter. Dit het my so baie gehelp. Dit sal lekker wees om net weer met haar te sit en te gesels en om uit te vind hoe het sy bo uitgekom.
Wat my die gelukkigste in my lewe maak? Daar is baie dinge, maar die meeste is God, my familie en vriende. Hulle maak lewe net beter en maak dit “worth it”. Hulle maak dit opwindend. Baie dinge maak my gelukkig, maar die mense maak my net op n ander vlak gelukkig, al is daar “ups” en “downs”.
My grootste hoogtepunt die afgelope vyf jaar is om deur te kom tot by matriek (wat so stresvol was). Ek het as persoon so gegroei en het meer “understanding” vir as daar dinge gebeur. Met my sport het ek so hard gewerk om te kom waar ek is vandag. As gevolg daarvan wil ek meer streef tot heel bo.
Ek sal myself beskryf as spontaan.
Meer skolenuus: https://schoolsthatrock.co.za
Foto verskaf