Netbal Kapteins. In ons reeks oor sport kapteins, gesels Schools That Rock vandag met Kate-Lynne Grobbelaar. Kate-Lynne is die kaptein van Hoërskool Jim Fouché in Bloemfontein, se 1ste netbalspan. Kate-Lynne teken vandag die vyftiende doel aan in ons reeks oor Netbal Kapteins van hoërskole in Suid-Afrika.
“Ek het op die ouderdom van sewe jaar begin netbal speel. Netbal is my lewe. Hoekom? Die Here het my geseën met die gawe en daarvoor is ek dankbaar. Daar is nie ‘n lekkerder spansport om aan deel te neem nie. Daarom is ek passievol oor netbal.
Die posisie wat ek tans speel, is V. Toe ek klein was het ek doel gespeel, maar hulle het gou agtergekom dat ek eerder aan die verdedigende kant moet speel. Ek speel HV ook. Ek is opgewonde om te sê dat ek voorheen ook as kaptein verkies was.
Ons span oefen tussen vier en vyf dae per week. As ek ‘n bal in die hand kry dan gebruik ek die geleentheid om ekstra oefentyd in te werk.
Daar is nie ‘n spesifieke wedstryd wat ek kan sê, as netbal kaptein, ek die meeste gestres het nie. Elke semi-finaal of finaal is daar maar groot spanning. En as ons teen ons groot vyande speel, dan stres ons maar lekker! My lekkerste wedstryd wat ek ooit gespeel het is ‘n Varsity wedstryd wat ons vroeër hierdie jaar gewen het.
O.18 Vrystaatspan
Ek is verkies tot die 0/18 Vrystaatspan, so dit sal lekker wees om op die SA kampioenskappe goed te presteer en moontlik raakgesien te word. Dit is een van my doelwitte.
My top vyf prioriteite tans in my lewe is Matriek, netbal, matriek, matriek, matriek.
Ek wil graag na skool voortgaan met netbal en ek hoop om so lank moontlik by netbal betrokke te wees. As ek nie kan speel nie, sal ek dalk wil afrig of as skeidsregter optree. Ek hoop ook om vir een van die Varsity spanne te speel. Dit sal ongelooflik wees! My groot droom is natuurlik om ‘n Protea speler te word. Ek hoop dit is die Here se doel ook met my. Ek is baie opgewonde.
Daar is altyd spasie vir verbetering in my spel. Dis goed om op hoogte te bly van nuwe patrone en tegnieke. Ek kyk graag die toernooi-wedstryde as dit op TV uitgesaai word.
My belangstellings buiten netbal? Ek is ietwat van ‘n vliekflooi. Ek speel ook graag Frisbee en Volleyball.
Sterk punte
My sterk punte wat my laat glo dat ek ‘n goeie netbalspeler is, is dat ek 100% toegewyd is. Ek luister wat my afrigters sê en probeer dit toepas. As netbal kaptein hoop ek dat my positiewe houding en liefde vir my span en sport hulle optel en gemotiveerd sal hou. Ons is ‘n yster-span.
Die Suid-Afrikaanse netbalspeler, Karla Pretorius (Mostert) is ‘n groot rolmodel vir my. My afrigters is ook my helde!
Ek dink die grootste uitdagings van die meeste deelnemers aan sport vandag, is die ongelooflike kompetisie en om ‘n stempel af te druk.
Gelukkig is ek ‘n pliggie, so ek balanseer sport en akademie goed. Kuiertyd word hierdie jaar beperk, maar as daar ‘n gaatjie is benut ek hom behoorlik.
My grootste netbal nagmerrie was toe ek my knie ontwrig het. Ek moes byna ‘n hele seisoen uitsit. Ek het wel elke oefening en wedstryd bygewoon.
Spanwerk
Wat ek, as netbal kaptein, omtrent spanwerk geleer het, is teamwork makes the dream work.
My grootste, hoogste hoogtepunt in netbal, was toe ek kaptein geword het van die beste skool se eerste netbalspan en toe ek hierdie jaar in die Vrystaatspan opgeneem is.
Een van my beste voorstelle nog, is om met mekaar te praat en om die los balle te speel. Luister na die afrigter se voorstelle en speel jou hart en jou gô uit! Dit is wat werk!
Beste advies
Die beste advies wat ek al van my afrigters ontvang het, is Play the ball!
My afrigter en spanlede beskryf my as Katie met die lang arms!
Ek sal ‘n bekwame afrigter beskryf as iemand wat die nuutste spelpatrone en afrigtingstegnieke ken. Sy moet iemand wees wat elke speler se sterkste punte kan uitbou. Iemand wat vir jou ‘n veilige hawe is.
Die professionele netbal speler met wie ek graag sal wil koffie drink, is Karla Pretorius Mostert. Ek was al bevoorreg om deur haar afgerig te word. Ek sal net nog bietjie met haar wou gesels oor “tips and tricks.”
Wat my die gelukkigste in my lewe maak, is sjokolade, my hartsmense en kamp.
My grootste hoogtepunt die afgelope vyf jaar is my kapteinskap, VRL en goeie akademie. My hoërskoolloopbaan was en is fantasties.
Ek sal myself in een woord beskryf as bedagsaam.“
Meer skolenuus: https://schoolsthatrock.co.za
Foto’s verskaf