Netbal Kapteins. In ons reeks oor sport kapteins, gesels Schools That Rock vandag met Carli Shannon. Carli is die kaptein van Bethlehem Voortrekker Hoërskool se 1ste netbalspan. Carli teken vandag die agtste doel aan in ons nuwe reeks oor Netbal Kapteins van hoërskole in Suid-Afrika.
“Van kleins af is ek al mal oor netbal. Ek het, toe ek 7 jaar oud was, my eerste netbal wedstryd gespeel. Ja, ek is baie passievol oor netbal. Ek hou daarvan om my talent uit te leef en ek geniet die spangees wat dit bring. Dit is tans die enigste sportsoort waaraan ek deelneem. Die posisie wat ek tans speel is V en HV. Ek het ook al HD en AV gespeel. Ek was in 2018 ook netbal kaptein.
Ons span oefen vier keer per week waarvan ons oggendsessies sowel as middagsessies het.
Die wedstryd waartydens ek die meeste gestres het, was toe ons in 2020 by Oranje Meisieskool se aandreeks gespeel het. Daardie wedstryd was my eerste wedstryd as netbal kaptein van die 1ste span. My lekkerste wedstryd was Derby 2019 toe ek die laaste bal draai en toe wen ons die wedstryd met 1 doel. Dit was ‘n hoendervleis gevoel gewees!
Korttermyn doelwitte
My huidige korttermyn doelwitte is om net my laaste hoërskool netbal te geniet. Ek wil ook verder ontwikkel en in die langtermyn sal ek graag vir die Universiteit wil netbal speel. Daarna sal ek maar kyk hoe werk my planne uit. Ek sal graag vir die Junior Proteaspan wil speel.
My top vyf prioriteite is: Geloof; Netbal; Familie; Akademie en Vriende.
Ja, ek ervaar beslis tekortkominge in my spel. My voete is soms ‘n bietjie te stadig en dan kontak ek. Om my voete te ontwikkel, spring ek tou. My sterk punte, sal ek sê, is my fly onderskeppings wat ek so nou en dan maak. Dit gee my nogal selfvetroue.
As kaptein motiveer ek my span tydens die wedstryd deur met hulle te praat en ek moedig hulle aan om aan te hou werk tot die einde toe.
Simone Rabie
My rolmodel is Simone Rabie want my droom is om eendag soos sy te kan verdedig. Sy speel vir die Proteas.
Ek dink die grootste uitdagings van die meeste deelnemers aan sport vandag het te doen met Covid wat ons die afgelope twee jaar ervaar het. Ek dink dit is nogal ‘n groot uitdaging om weer aan die gang te kom en om weer as ‘n span saam te werk.
Hoe bestuur ek my sport-, akademiese en ander verpligtinge? Ek bestee maar my tyd meestal aan sport en dan aan akademie. My vriende en familie kry ook darem tyd so tussendeur my besige skedule.
Wat ek omtrent spanwerk geleer het sedert ek kaptein geword het, is dat mens nie sonder jou span ver sal kom nie. As elkeen hulle deel op die baan doen, hoef jy nie jouself dood te werk nie.
Hoogtepunt
Die hoogtepunt wat ek beleef in netbal as speler en as kaptein, is wanneer ‘n span begin saamstaan en ‘n eenheid begin vorm. ‘n Voorstel waarmee ek vorendag gekom het wat goed werk, is dat almal mekaar moet ondersteun en dra op en van die baan af en dat ons mekaar beter moet leer ken. Wanneer ek sien dat een van my spanlede sukkel met nuwe uitdagings in die spel, praat ek rustig met hulle en motiveer hulle om nie op te gee nie.
Die beste advies wat ek al van my afrigter ontvang het, is: speel jou eie game en hou aan werk.
My afrigter en spanlede beskryf my as hardwerkend, lojaal en selfgedissiplineerd.
As ek ‘n bekwame afrigter moet beskryf, sal ek sê sy moet ons positief motiveer maar ook ons help om te verbeter en om te leer uit ons foute.
Ek sou baie graag wil koffie drink saam met Simone Rabie. Ek sal graag by haar wil hoor hoe sy so ‘n passie het vir netbal en hoe sy alles bereik wat sy al bereik het.
Wat my die gelukkigste in die lewe maak, is as die mense rondom my gelukkig en ook positief is.
Met Covid en alles so saam, was my grootste hoogtepunt die afgelope vyf jaar, om te hoor dat ons weer met sport mag begin.
As ek myself in een woord moet beskryf, sal die wees: confident.“
Meer skolenuus: https://schoolsthatrock.co.za
https://www.voortrekker.co.za/
Foto’s verskaf