Mpumalanga-kunskompetisie. Die Erries neem die afgelope agt jaar deel aan die Mpumalanga-kunskompetisie. Die kompetisie word deur die Departement van onderwys geloods. Elke jaar behaal die Erries plekke op die top 10 lys en selfs ’n tweede of derde plek. Vanjaar het die Erries egter die kompetisie oorheers en ’n eerste, tweede en derde plek behaal. Hulle is ook die algehele wenners van kuns as vak in Mpumalanga.
Altesaam 300 inskrywings, wat Ontwerp en Visuele kuns insluit, was die meeste inskrywings nóg vir hierdie kompetisie. Die tema was ‘Sirkels’ en leerders moes die tema op ’n kreatiewe manier interpreteer as ’n praktiese taak. 168 visuele kuns leerders het in die provinsie ingeskryf waarvan nege leerders Erries was. Die kunswerke is deur drie kunstenaars van Mbombela en omgewing beoordeel. Ses Erries het plekke in die top 10 plekke behaal!
Almal se kunswerke word in die Mbombela kunsgalery uitgestal waar die publiek dit kan besigtig.
Top 10 plekke
Die top 10 plekke is behaal deur: Inge van der Walt, Bianca de Jager, Ancois van der Berg (graad 11-leerder), Thobani Mbuli, Ilandri Nel en Gift Mthethwa (graad 12-leerders).
Thobani Mbuli is as algehele wenner aangekondig. Ilandri Nel behaal ’n tweede plek en Gift Mthethwa ’n derde plek. Alle skole in Mpumalanga wat Visuele Kuns as vak aanbied, word verplig om aan dié kompetisie deel te neem. Hoërskool Ermelo is as wenner in Mpumalanga aangekondig vir die vak Visuele Kuns.
Die Erries wat deel is van die top tien se werke word by die Mbombela-skou uitgestal. Hulle sal ook tydens ‘n prysuitdeling hulle kontantpryse, geborg deur die skou, ontvang.
Baie geluk aan elkeen van hierdie leerders met jul pryse en uitsonderlike talent, asook aan me Carin van der Merwe wat as onderwyser die leerder lei om die sukses te kan behaal. EHS is trots op julle.
Meer skolenuus: https://schoolsthatrock.co.za
Foto verskaf