Landsdiens Kamp. Hoërskool Ermelo se nuutgevonde Landsdiens klub het die afgelope naweek ‘n gekombineerde klubkamp saam met Hoërskool Oosterland gehou. Die landsdiens kamp is aangebied te Kwasinungu Adventures o.l.v. mnr. Hendry Lombard. Die kampterrein is geleë tussen Volksrust en Vrede waar die sowat 55 hoërskoolleerders alles terdeë geniet.
By hul aankoms het die leerders bandanas en vlae gemaak. Verder is spanname en krete uitgedink. Ysbreker-speletjies is gespeel en ‘n nagmars is gehou. Soggens en saans is daar geestelike sessies gehou. Kwasinungu Adventures se kombuis het gesorg dat die jonges nooit enige aktiwiteit honger aangepak nie. Ongelukkig het ‘n paar spanne se potjiekospotte Saterdagaand eers láát die aand behoorlik aan die kook gekom!
Daar is berg geklim, kleilat gespeel, moddermonumente gebou en koffie gedrink tussendeur al die prettige aktiwiteite. Saterdag-laatmiddag se hindernisbaan was ‘n groot hoogtepunt. So ook Sondagmiddag se uitklim van Berg Majuba. “Ons staan opnuut in verwondering oor die prag van God se skepping.” Nuwe vriendskappe is gesmee en Maggie, die plaashond, het sommer diep in almal se harte gekruip.
Die landsdiens Erries wil hiermee ons opregte dank uitspreek teenoor die Oosies wat ons so gulhartig ontvang het. Ons eer ook ons Hemelse Vader vir sy hand van bewaring oor die Erries die afgelope naweek.
Tot die volgende landsdiens kamp, Landsdieners – facta non verba!
Meer skolenuus: https://schoolsthatrock.co.za
Foto’s verskaf