Baie welkom aan die nuwe Dolfyne en hulle ouers wat hierdie week by ons skool aangesluit het!
Laerskool Hartenbos is in die Suid-Kaapse dorp Hartenbos aan die begin van die wêreldbekende
tuinroete geleë, 9 km vanaf Mosselbaai, 45 km vanaf George en 35 km vanaf George Lughawe.
Hartenbos is welbekend as vakansiebestemming wat veral in die somervakansie baie gewild is.
Hartenbos en omgewing bied aan vakansiegangers asemrowende mooi natuurtonele, gewilde
strande en ’n uiters gematigde klimaat. Geen wonder dat vakansiegangers in hul duisende na
ons mooi dorp kom nie!
Laerskool Hartenbos bied onderrig aan leerders van Gr. RR tot Gr. 7. Elke graad bestaan uit vier
klasse met relatief klein leerdergetalle. Ons skool is bevoorreg om goed opgeleide, positiewe en
hardwerkende onderwysers te hê wat bereid is om die ekstra myl vir die Dolfyne te loop. In
sekere grade is daar klasassistente om die onderwyser se hande verder te sterk.
’n Volledige spyskaart van buitemuurse kultuur- en sportaktiwiteite word aan ons leerders
gebied met genoegsame geleenthede tot deelname, blootstelling en prestasie. So spog ons ook
jaarliks met leerders wat op provinsiale en selfs nasionale vlak ons skool se naam hoog hou.
Ons skool beskik oor ’n goed toegeruste skoolgebou met goeie infrastruktuur vir sport- en
kultuur aktiwiteite. Goeie uitbreidings is gemaak om e-leer en die gebruik van tegnologie vir die
leerders toeganklik te maak.
Gedurende die Desember skoolvakansie word die skool se sportvelde omskep in woonwa
staanplekke en vakansiegangers wat reeds vir jare terugkeer, is ’n bewys van die welslae van
hierdie projek. Kontak gerus die skool in hierdie verband sou u meer wou uitvind.
Ons leef graag met die leuse “In Dolfynkontrei reik elke dolfyn na die hoogste brander!” Geniet
die reis deur ons webtuiste en kontak ons gerus indien u enige verdere navrae sou hê.