Hoërskool Nelspruit se Graad 12’s van 2020 is Vrydag 16 Oktober tydens ‘n gepaste afsluitingsdiens voor die aanvang van die eindeksamen bemoedig en gegroet.
Twaalf jaar op die skoolbanke het Vrydag vir dié leerders tot ‘n einde gekom.
Hierdie groep leerders word as onkeerbaar, onwrikbaar en onstuitbaar beskryf. Alhoewel vanjaar vele teleurstellings ingehou het en ongewone uitdagings gestel het, het hierdie Nellies dit verwerk en elke bul gestorm en by die horings gepak.
Die kerkdiens is deur pastoor Shaun Adams van Church Unlimited gelei en hy het ‘n besonder treffende boodskap met die skoolverlaters gedeel.
Mnr. Johan Hattingh (skoolhoof) het tydens sy toespraak gesê dat die matrikulante ‘n goeie nalatenskap laat en dat hulle hierdie uitdagende jaar vir die onderwysers die moeite werd gemaak het. Hy het ook die matriekpersoneel bedank vir hul toegewydheid en bereidwilligheid om ten spyte van vele uitdagings die ekstra myl te loop.
Die hoofleiers, Milda van Dyk en Handré Homann, het ook vir oulaas ‘n beurt gekry om hulle graadgroep toe te spreek. Gaan kyk gerus na die toesprake op die NellieTV-kanaal.
Ons wens hierdie Nellies baie sterkte toe vir die finale eksamen. Mag julle die palmtak hoog dra!
Foto’s: Hennie Homann