Krieket kapteins. Schools That Rock gesels, in hul reeks oor skole se krieket kapteins, oor die volgende aantal weke met verskeie skole in Suid-Afrika se 1ste span Krieket-kapteins. Ons tiende bal word vandag geboul na Ulrich Campher, kaptein van Hoërskool Fichardtpark in Bloemfontein se 1ste krieketspan.
“Ek het begin krieket speel vandat ek ‘n krieketkolf kon vashou! Daarom hou ek nie van krieket nie – ek is gebore met ‘n passie vir krieket! Ek het die liefde wat ek vir die sport het van my pa gekry. Hy was ‘n SANW krieketspeler en hy was bitter goed, so ek wil in sy voetspore volg.
My probleem aan die begin was dat die kolf te swaar was vir my. Ek moes net hard werk om ‘n goeie kolf-tegniek te kry. Die eerste keer wat ek as krieketkaptein verkies is, was in graad 5. In graad 10 is ek as kaptein van Hoërskool Fichardtpark se eerste span gekies. Ek beskou die belangrikste taak van die kaptein om dissipline te handhaaf. Verder moet hy ook die span kan motiveer en spangees om die span se werkverrigting hoog te hou.
Ons 1ste span oefen vier keer per week met ‘n sessie van twee ure elk.
Eerste krieket wedstryd
Toe ek my eerste krieket wedstryd gespeel het, was ek opgewonde, maar ook baie stresvol. ‘n Goeie krieketspeler moet beskik oor goeie dissipline, ‘n hoëwerkstempo, geduld ‘n positiewe ‘mindset’ en ‘n passie vir die sport. My sleutel tot sukses op die krieketveld is ongetwyfeld om positief te bly, baie geduldig te wees, hard te oefen en om aan foute te werk.
Wat my inspireer elke keer wanneer ek op die veld stap vir ‘n wedstryd, is die begeerte om te wen en om my alles te gee vir my span en vir myself. Ek het drie kriekethelde na wie ek opkyk: my pa, Alistair Cook en Jacques Kallis.
As ek moet kies tussen kolf en boul, verkies ek die kolf. Ek is ‘n kolwer! In my loopbaan tot nou was my lekkerste wedstryd die eerste wedstryd vir Fichies se eerstespan. Die spangees was hoog, almal het mekaar aangemoedig, hulle het my ingevat as een van hulle. Natuurlik so, want ons het gewen!
Die kolfbeurt wat my altyd sal bybly, was in die laerskool toe ek ‘n ses geslaan het en die bal die afrigter getref het! My beste boulbeurt was toe ons teen Grey Kollege gespeel het en ek twee paaltjies geneem het en geen lopies afgestaan het nie.
Druk op die veld
Ek hanteer druk op die veld deur kalm te bly en die positiewe uit elke situasie te neem. As ek raad kan gee aan beginners, sal dit wees: hou aan werk, moenie opgee nie, glo in jouself en om die spel te geniet, is die belangrikste.
Wanneer ek ‘n moeilike wedstryd agter die rug het, soek ek hulp en raad by my pa en my afrigters. Ja, ons het ook ‘n ‘nar’ in ons span – Yoandre Kruger of Skillie soos wat ons hom ken.
Die spelers wat my die meeste verras in die span, is die juniors. Nie dat hulle foute maak nie maar hoe hulle positief bly wanneer iets verkeerd loop en nie opgee nie.
Die bouler wat ek die meeste gevrees het, is my ou senior toe ek graad 8 was, Shaun Schietekat. Ek hou daarvan om na krieketwedstryde op televisie te kyk. Ek leer baie by die senior spelers en kry ook baie wenke by hulle.
In my vrye tyd speel ek graag gholf, kuier met my vriende en gee my ouers grys hare. As ek myself met een woord moet beskryf, is dit perfeksionisties – want ek oefen totdat ek iets honderd persent reg doen.
Foto verskaf
Meer skolenuus: https://schoolsthatrock.co.za